|

AfriForum verskerp veiligheidsteenwoordigheid in Groblersdal te midde van ANC- en EFF-planne van destabilisering

Terwyl die politieke situasie in Groblersdal op ’n mespunt rus en die ANC en EFF in groot getalle daarheen opgeruk het, het AfriForum vandag aangekondig dat dit veiligheid hier, ter beskerming van die gemeenskap, selfs verder opgeskerp het.

Dié gespanne situasie hou verband met die borgtogaansoek wat in die plaaslike hof aangehoor is in die sogenaamde Groblersdal-2-saak. ’n Man en sy stiefseun staan in dié saak tereg op aanklagte van aanranding van ’n sekuriteitswag. Teen laatmiddag is aangekondig dat hul borgtogaansoek afgekeur is.

Volgens Llewelynn Hemmens, AfriForum se hoof van Veiligheid vir die Noordstreek, is AfriForum besig om ’n permanente buurtwag in Groblersdal te stig om ’n groter stabiliserende rol in dié gemeenskap te speel.

AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture is reeds sedert verlede week in Groblersdal om die veiligheid van die gemeenskap hier te verseker en om moontlike kwesbare teikens van destabilisering (soos skole, aftreeoorde en lede van die gemeenskap) te midde van toenemende spanning te beskerm.

Intussen handhaaf AfriForum volgehoue kommunikasie met die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om te verseker dat die situasie hier vreedsaam ontlont kan word. AfriForum wil daarbenewens toesien dat enige wetteloosheid en intimidasie voorkom word.

“Partye soos die ANC en EFF probeer duidelik om die gespanne situasie wat tans in Groblersdal heers, opportunisties uit te buit en te eskaleer om in aanloop tot die 2024-verkiesing voordeel daaruit te trek,” sê Hemmens.

“AfriForum staan ​​vierkantig aan die kant van wet en orde en ons veiligheidstrukture sal ’n toenemende rol speel om die Groblersdal-gemeenskap gedurende hierdie hofsaak, maar ook daarna, te beveilig,” sluit Hemmens af.

AfriForum moedig alle gemeenskapslede, en sake-eienaars in die besonder, aan om enige gevalle van intimidasie of saakbeskadiging by die SAPD aan te meld en om inligting aangaande dergelike klagtes aan AfriForum te voorsien sodat dit gemonitor kan word.

AfriForum sal sy lede en die publiek op die hoogte hou van verwikkelinge. Nuwe inligting sal, soos wat die situasie ontvou, beskikbaar gestel word op AfriForum se sosialemediaplatforms.

Soortgelyke plasings