|

Parys-tak takel slaggate as deel van die #OnsDorp-projek

Die AfriForum-tak in Parys het die afgelope naweek, ten spyte van krag- en watertekorte, hand aan die ploeg geslaan en probeer om van dié dorp ’n nóg mooier dorp te maak. Die tak het Mooi Parys, ’n organisasie sonder winsbejag, met hul skoonmaakprojek ondersteun en onder meer gehelp om vullis op te tel.

Verder het die Parys-tak op Saterdag 9 September ongeveer 30 groot slaggate met 50 sakkies teer gevul. Die gedeelte wat gevul is, is die pad vanaf die Welkom-kafee tot by die vraghouers – spesiaal vir die padwedloop wat eersdaags plaasvind. Daar is ook in die pad voor die NG Kerk Parys-Wes slaggate gevul. Al hierdie harde werk is in slegs drie ure gedoen.

“Dit is lekker om saam met gewillige mense, wat graag ’n verskil in Parys wil maak, te werk. As elke inwoner in Parys, te midde van al die probleme wat ons het, net ’n positiewe ingesteldheid sal hê en iets positief doen om die dorp te verbeter, verander ons hierdie dorp weer in ’n pragdorp,” sê Schalk Burger, die AfriForum-takvoorsitter in Parys.

“Dis baie lekker om te sien dat baie van die inwoners in Parys hulle nie laat onderkry deur al die ellende wat daar is nie. Ek verseker die inwoners dat AfriForum alles in ons vermoё doen om die probleme te takel. Intussen is dit lekker om iets positief te doen en te voel dat jy ’n bydrae gelewer het om van Parys ’n beter plek te maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by projekte soos dié betrokke te raak. Kontak vir Burger by 082 653 4281om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings