|

Privaatvervolgingseenheid staan nog ’n slagoffer van geslagsgebaseerde geweld by

AfriForum se Privaatvervolgingseenheid staan tans vir Milena Hill by in ’n aanrandingsaak teen haar ekskêrel, John Schuurman (ook bekend as Johnny Rocket). Dit volg nadat hy haar na bewering op 27 Januarie 2022 in so mate aangerand het dat hy haar neus gebreek het. Schuurman se prokureur, Elizma de Waal, het vandag in die Hatfield-landdroshof in Pretoria aangedui dat hy onskuldig gaan pleit op ’n klag van aanranding.

Nadat De Waal en die aanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vooraf ’n ooreenkoms bereik het, is die saak tot 30 Augustus 2022 uitgestel vir verhoor omdat De Waal aangedui het dat sy ’n advokaat wil brevetteer om die saak te litigeer.

Lede van AfriForum se privaatvervolgingseenheid was ook vandag in die hof om Hill te ondersteun. “Alhoewel ons teleurgesteld is dat die verhoor uitgestel is, weet ons dat daar net soveel vertragingstaktieke is wat die beskuldigde kan inspan voordat die verhoor uiteindelik móét begin. Ons is vol vertroue dat die verhoor op 30 Augustus sal begin sodat die klaagster uiteindelik geregtigheid kan kry. Ons is amper in Vrouemaand, maar tog blyk dit dat die staat bloot besig is om lippediens te doen aan die geveg teen geslagsgebaseerde geweld, veral in die howe waar hierdie geveg na regte die hardste geveg moet word. Die privaatvervolgingseenheid sal daarom voortgaan om vir Milena by te staan om toe te sien dat die saak die nodige aandag kry,” sê Wico Swanepoel, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Hill het op haar beurt gesê dat sy dankbaar is vir die eenheid se bystand en dat hulle vandag saam met haar in die hof was. “Ek glo dat geregtigheid moet geskied en is dankbaar vir adv. Gerrie Nel en sy span se ondersteuning.”

Soortgelyke plasings