|

Roets bied lesing oor vryheid by Akademia aan

Dr. Ernst Roets, bestuurshoof vir Strategie by AfriForum, het gister ’n lesing by Akademia aangebied waarin hy “selfgesentreerde vryheid” teenoor “vervullende vryheid” uiteengesit het.

Sy lesing het die vorm van die storie aangeneem wat die Westerse geskiedenis opgesom het en na verskeie denkers en hul idees verwys het. Hy het spesifiek verwys na die rol wat die Ateners, Romeine en mense van Jerusalem gespeel het.

Vra iemand op straat wat hulle dink vryheid beteken en die antwoord wat baie mense sal gee is dat vryheid jou die reg gee om te doen wat jy wil.

Die woordeboek verwys ook na ongebondenheid. Dit is hierdie selfgesentreerde vryheid waarna Roets verwys het. Daarteenoor het hy bekende filosowe aangehaal wat ander sienings gehad oor hoe ’n mens of gemeenskap vryheid bekom.

Die Griekse filosoof Plato het byvoorbeeld geglo dat daar nie iets soos ’n ideale utopiese republiek kan bestaan nie, maar dat geregtigheid gekoppel kan word aan die harmonie in die gemeenskap. Elke burger moet sy plek in die gemeenskap vind. Die Ateners het weer ’n hoë waarde aan die gesin en gemeenskap geheg. Hulle het geglo dat ’n hiërargie en ongelykheid in die gemeenskap natuurlik is, maar dat ’n gemeenskap wat goeie dinge doen vryheid bevorder. Verder het die Ateners geglo dat regeerders wat meer aandag aan hul eie belange gee as aan die van die publiek tot korrupsie lei.

Die Romeine het dikwels in hulle skrywes na vryheid verwys. Hul gevolgtrekking was dat vryheid nie onder ’n alleenheerser kan bestaan nie. Hulle het ook die rol van die gemeenskap in ’n vry samelewing beklemtoon.

Dr. Ernst Roets, bestuurshoof vir Strategie by AfriForum

Roets het ook na die Bybelse Paulus verwys wat gesê het  ’n mens is juis nie vry as ’n mens net doen wat jy wil nie, want jy onderwerp jou dan aan jou sondige natuur. Met die era van die kerk het die idee van sterf vir iets groter as jouself as ’n vorm van vryheid tot stand gekom en ook die idee dat om vervolg te word ’n vorm van vryheid is.

In sy lesing het Roets vir ’n ruk by die Franse Revolusie stilgestaan en hoe die idee van vryheid om te doen wat ’n mens wil sonder om ander skade aan te doen posgevat het. Jean-Jacques Rousseau het gemeen die gemeenskap ontken die vryheid van die individu en dus moet vryheid van die staat af na burgers afgewentel word.

Edmund Burke en Alexis de Tocqueville het albei die belangrikheid van die gemeenskap beklemtoon en dat vryheid in die gemeenskap gewortel is.

De Tocqueville het tydens ’n besoek aan die VSA gemerk hoe sterk hul gemeenskappe en instellings gevestig is en dat vryheid hier die botoon voer wat in sy opinie tot die sukses van hierdie land bygedra het. Sy gevolgtrekking was dat dit goed is om jou eie belange binne die konteks van die gemeenskap te bevorder.

Die gevolgtrekking waartoe Roets kom is:

* Vryheid is nie ’n gegewe nie.

* Vryheid is nie ’n “reg” waarop ons eenvoudig kan aandring nie.

* Vryheid is nie ’n middel tot ’n doel nie. Dit is die doel.

* Vryheid is die bevordering van die goeie, in gemeenskap met ander.

* Vryheid is ’n erkenning van die transendente.

* Vryheid is nie bloot ’n bestemming nie.

* Vryheid is ook die reis om daardie bestemming te bereik.

* Vryheid is Beweging.

* Vryheid is, in Aristoteles se woorde, die beweging van potensialiteit na vervulling.

* Vryheid is, in Paulus se woorde, om in die vrugte van die gees te leef.

* Vryheid is, in Cicero se woorde, om aan die volgende geslag oor te dra wat ons van ons voorgeslag geërf het.

* Vryheid is dit wat ons bevorder wanneer ons die regte dinge doen, maar dit is ook dit wat ons ervaar wanneer ons die regte dinge doen.

Soortgelyke plasings