|

Bellville-buurtwag sorg vir vyf inhegtenisnemings tydens nasionale patrollie

AfriForum se buurtwag in Bellville het die afgelope naweek die vrugte van sy arbeid gepluk toe hy aan die burgerregteorganisasie se nasionale patrollie deelgeneem het. Dié buurtwag het in samewerking met ander veiligheidsmaatskappy en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) daarin geslaag om vyf vermeende misdadigers tydens die patrollie in hegtenis te neem.

Die Bellville-buurtwag het Vrydagmiddag (19 April) opgeruk en deur die nag dié voorstad saam met 13 SAPD-lede, twee metropolisielede en ’n lid van die verkeerspolisie gepatrolleer. Nagenoeg 50 wetstoepassers wat aan ander veiligheidsmaatskappye soos VRCID, SJC Security, Basset Security en ADT veiligheidsdienste verbonde is, het ook hieraan deelgeneem. Benewens 19 van AfriForum se eie buurtwaglede is hulle ook deur 27 lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) bygestaan.

Danksy dié wetstoepassers se waaksaamheid is ’n verdagte in hegtenis geneem vir die besit van  vermoedelik gesteelde goedere en ’n tuisgemaakte vuurwapen. Nóg iemand is vasgetrek vir die besit van ’n gevaarlike wapen, terwyl twee verdagtes in hegtenis geneem is omdat hulle onderskeidelik heroïen en metamfetamien (tik) in hul besit gehad het.

Diegene wat aan die patrollie deelgeneem het, het ook op ’n skietery by ’n huis in Oakdale gereageer. Met die patrolleerders se aankoms op die toneel het sewe mans op die vlug geslaan. Die SAPD het die verdagtes agternagesit en een van hulle vasgetrek. Die res het egter die wetstoepassers ontduik. Dit is nie duidelik wat tot die skietery aanleiding gegee het nie, maar die SAPD ondersoek die saak verder.

Die patrolleerders het ook verskeie verkeersoortredings tydens die patrollie opgemerk. As sodanig is verkeersboetes ter waarde van R5 000 uitgereik.

Reagen Allen, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het ook die aand sy verskyning gemaak om die groep wetstoepassers en buurtwaglede toe te spreek.  Allen het die gemeenskap en plaaslike veiligheidsmaatskappye se lof besing en hul bedank vir hul toewyding tot die beveiliging van Bellville. “Dit maak die provinsiale regering opgewonde om te sien dat inwoners self inspring en broodnodige ondersteuning aan ons wetstoepassers bied,” het Allen gesê.

“AfriForum bly daartoe verbind om te verseker dat voorstede soos Bellville veilig vir al sy inwoners is. Dié tak en sy buurtwag sal voortgaan om patrollies soos hierdie een te fasiliteer en hegte bande met wetstoepassers te smee,” sê Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Kus.

Soortgelyke plasings