|

Sasolburg-tak hou dorp steeds netjies

AfriForum se Sasolburg-tak het op 27 Mei weer hulle maandelikse mark in die Hoëveldse Tuine gehou waar verskillende kunstenaars die markgangers vermaak het. Daar was bykans 30 stalletjies en die gemeenskap word aangemoedig om hierdie mark by te woon en die uitstallers te ondersteun.

Die tak het verder onverpoosd die afgelope maand steeds voortgegaan met aksies om dié dorp netjies te hou. Die #MyWoonbuurt-kompetisie wat geloods is om gemeenskappe te help om hul woonbuurte op te knap is afgehandel. Hierdie kompetisie gee AfriForum-lede die kans om te stem vir iets in hulle area wat dringend aandag benodig. Die woonbuurt wat die meeste stemme gekry het om opgeknap te word, is skoongemaak en die gras is gesny. In Mei is 12,4 hektaar se gras gesny.

In die winter sal die sny van groenstroke en die tuine afneem. Gedurende dié tyd sal die trekkers en ander toerusting behoorlik gediens en, indien nodig, herstel word.

Die tak het verder nuwe ligte by die plaaslike polisiestasie se aanklagkantoor geïnstalleer.  Straatligte se gloeilampe in Vaalpark is ook vervang, maar die projek is ongelukkig gestop nadat die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit nie hul beloftes nagekom het nie en slegs vir ’n dag betrokke was. AfriForum-lede is nie by magte om kragbokse oop te maak en vir krag te toets nie. 

’n Vergadering met die tak en die munisipaliteit se DA-bestuur rakende kwellende kwessies in Sasolburg is gehou. DA-bestuurslede van die Vrystaat was verteenwoordig asook bestuurslede op nasionale vlak. Die DA gaan ’n projekplan saamstel oor kwessies soos die agteruitgang van paaie, water en sanitasie wat op nasionale vlak gemoniteer sal word.

AfriForum se Sasolburg-buurtwag het in Mei verskeie operasies geloods en ’n totale afstand van 659 km afgelê in ’n poging om hul gemeenskap te beskerm. Verskeie operasies soos sigbaarheidspatrollies is in samewerking met die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) uitgevoer.

Volgens Johan Cooks, voorsitter van die Sasolburg-tak, is hulle besig met verskeie aksies om Sasolburg weer skoon en netjies te maak.  “AfriForum Jeug se Sasolburg-tak is tans besig om te help met ’n opknappingsprojek van die Van Riebeeck-gemeenskapsentrum. Die versorgingseenheid is byna klaar geverf en krake in die mure is opgevul. Sodra hierdie werk afgehandel is, gaan hulle na die volgende blok aanbeweeg,” sê Cooks.

“Hierdie tak doen werklik baie goeie werk in Sasolburg. Die Hoёveldse Tuine wat so mooi opgeknap is, bied ’n baie lekker plek vir gesinne om te stap, piekniek te hou en natuurlik die mark by te woon. Ek hoop werklik dat die gemeenskap by die tak se bedrywighede sal betrokke raak,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak. Kontak vir Johan Cooks by 083 230 9073.

Soortgelyke plasings