|

Sasolburg-tak pak Februarie met ywer aan

Nadat AfriForum se Sasolburg-tak die Hoëveldse Tuine onder hande geneem het, het dié tuine ’n groot trekpleister vir die gemeenskap geword en op Saterdag 25 Februarie is die Amper Herfs-mark, die vierde mark in die Hoëveldse Tuine met 19 uitstallers gehou. Die tak het baie moeite gedoen om die tuine weer op standaard te kry.

Die Vaaldriehoek se gewilde restaurant en kroeg, The Bar with no Name, het besluit om heerlike yskoue “slushies” tydens die mark te verkoop en besoekers het met vuil motors by die mobiele karwas tougestaan om weer met silwerskoon motors weg te ry. Navrae vir die volgende mark het reeds begin instroom.

Dié tak het egter in Februarie nie net mark gehou nie, maar ook 37 hektaar gras gesny wat die totaal vir die jaar reeds op 78 hektaar te staan bring. Terselfdertyd  is  verskeie briewe aan die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit oor gebrekkige dienslewering gestuur.

“Ander aksies word deur die jaar geloods en die tak vra dat die gemeenskap hulle ondersteun. Daar is reeds baie AfriForum-lede wat eienaarskap van hulle omgewing neem en hierdie areas in standhou. As jy graag betrokke wil raak kontak my gerus. Ons benodig baie hande en geduld,” sê Johan Cooks, voorsitter van die Sasolburg-tak.

AfriForum se Sasolburg-tak bedank die inwoners van die volgende areas vir al hulle tyd en opoffering: die area van die Stadium, en die omgewings in en om Van Wouwstraat en die groenstroke, sowel as Snyman-, Flexi Stowe-, HF Verwoerd-, Mosega-, en Colensostraat, die groenstrook langs die Voëlpark en Opperman-, President Swartstraat en Lebombolaan in Vaalpark.

“Ek wil ook die gemeenskap aanmoedig om by hierdie aktiewe tak betrokke te raak. As die tak reeds so ’n groot verskil kan maak, dink net hoe Sasolburg gaan lyk as almal betrokke raak. Die tak glo in selfdoen omdat dit ons enigste behoud is om seker te maak dat alles nie verval nie,”  sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder van die Mooirivier.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Sasolburg” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings