|

Sharemax: AfriForum plaas druk op NVG wat weier om in belang van aandeelhouers op te tree

AfriForum het vandag in ’n brief aan adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, versoek dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se besluit oor ’n bewaringsbevel van die Nova-eiendomsgroep heroorweeg word. Die NVG het besluit om nié die Nova-eiendomsgroep (wat vir alle praktiese doeleindes ’n voortsetting van Sharemax is) se bates in bewaring te neem nie. AfriForum voer aan dat hierdie bates met die opbrengs van ’n misdaad bekom is. Een van die direkte gevolge van die bewaringsbevel is dat niemand met die eiendom mag handel totdat die hof ’n finale bevel gegee het dat dit verkoop of aan die regmatige eienaars teruggegee moet word nie.

Adv. Rodney de Kock, adjunk- nasionale direkteur van openbare vervolging, het AfriForum in kennis gestel dat die NVG nié aansoek gaan doen om ’n bewaringsbevel ten einde aandeelhouers te beskerm teen verdere verliese nie.

Dit volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel op 22 Junie 2020 aangekondig het dat die eenheid hierdie bewaringsbevel opgestel en vir die batebeslagleggingseenheid van die NVG gestuur het. Die NVG kan sekere eiendomme ingevolge ’n hofbevel in bewaring neem, maar die NVG het in hierdie geval nog geen só ’n aansoek gebring nie.

In die aansoek voer die burgerregteorganisasie aan dat die eiendomme ter sprake bekom is met die opbrengs van onwettige aktiwiteite, insluitend geldwassery en bedrog soos vervat in die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad no. 121 van 1998 (POCA), asook die Wet op Banke no. 94 van 1990. Die eiendomme was instrumenteel tot die pleeg van misdade teen die aandeelhouers en die maatskappy Nova is sedert 2012 in beheer daarvan. Dié maatskappy is egter gestig met die opbrengs van onwettige deposito’s wat deur Sharemax van die publiek aanvaar is.

“Adv. De Kock se besluit om nie ’n aansoek vir die batebeskermingsbevel te bring nie, moet dringend heroorweeg word. Boonop kan sy besluit ingevolge die feite en die wet as irrasioneel en strydig met die feite en wetgewing beskou word. Volgens ons interpretasie van die reg, is Nova se bates bekom met die opbrengs van ’n misdaad, wat beteken dat dit teenstrydig met POCA is en dat die NVG die nodige mag het en ook verplig is om stappe te doen om die regte van beleggers te beskerm,” sê adv. Nel.

Volgens adv. Nel blyk dit dat die NVG nie erns maak van die saak nie, aangesien geen vervolging nog ingestel is nie. “Die vertraging in die verkryging van ’n beskermingsbevel kan tot verdere nadeel van aandeelhouers lei deurdat die Nova-raad bates kan verkoop of versprei ten koste van aandeelhouers. AfriForum sal dus aanhou om druk op die NVG te plaas om toe te sien dat geregtigheid geskied.”

Soortgelyke plasings