|

Vredendal-buurtwagte neem aan oorgrens polisiëringsaksie deel

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Vredendal-buurtwagte in die Matzikama-distrik het op 28 Oktober aan ’n gesamentlike oorgrens polisiëringsaksie deelgeneem. Verskeie rolspelers soos die plaaslike polisie, blitspatrollies, buurtwagte, plaaswagte en die Swartland K9-eenheid was betrokke en suksesse is behaal.

Dit was ’n inisiatief van die plaaslike polisie met die doel om met proaktiewe optrede misdaad ’n nekslag in die betrokke area toe te dien. Tydens die aksie is brandpunte met hoë misdaadsyfers vooraf geïdentifiseer. Die operasie is so beplan dat mannekrag eweredig oor die hele gebied versprei is. Padblokkades, verkenningsoperasies en observasieposte is geloods, daar is ook op huise waaruit misdaad bedryf word toeslaan.

Tydens die  operasie is verskeie suksesse behaal. Dwelmhandelaars is gearresteer en daar is ook beslag op dwelms gelê. Verder is arrestasies gemaak op persone in besit van onwettige flora. 

Sersant QK Fortuin van die plaaslike polisiekantoor het sy dank uitgespreek teenoor al die rolspelers vir hulle samewerking en die hantering van die operasie. “Dit is deur die samewerking van die betrokke gemeenskappe en rolspelers dat suksesse soos dié aangeteken kan word,” sê Fortuin.

“Gemeenskappe moet saamstaan, dit is elke lid van die publiek se plig om misdaad in hulle areas te takel, sê Eric van Zyl, voorsitter van die Vredendal-tak.

Indien jy by dié tak wil betrokke raak of wil aansluit, SMS “Boland” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings