|

Skrapping van Covid-19-kriminele rekords kom waarskynlik ná volgehoue druk deur AfriForum

Die Wysigingswetsontwerp op Geregtelike Aangeleenthede wat hierdie week in die Nasionale Vergadering aanvaar is, is ’n reuseoorwinning vir Suid-Afrikaners en die burgerregteorganisasie AfriForum, en is ’n noodsaaklike stap in die proses om persone se kriminele rekords wat tydens die Covid-19-ramptoestand opgelê is, te skrap. Dit volg nadat die organisasie volgehoue druk uitgeoefen het vir die uitwissing van kriminele rekords van individue wat voorheen skuldig bevind is aan die oortreding van Covid-19-regulasies gedurende die inperkingstydperk.

Teen 2021 het die polisie meer as 400 000 individue aangekeer wat die inperkingsregulasies oortree het. Bheki Cele, minister van Polisie, het dié syfer destyds bevestig.

Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, het dit al in Junie 2022 laat blyk dat die Wysigingswetsontwerp op Geregtelike Aangeleenthede in die parlement ingedien sou word met die doel om die kriminele rekords uit te wis van diegene wat Covid-19-inperkingsregulasies oortree het. Dié proses het egter maande lank gesloer.

AfriForum het in Augustus vanjaar aan die minister geskryf en duidelikheid geëis oor die regering se planne om amnestie te gee aan individue wat tydens die nasionale ramptoestand skuldig bevind is aan die oortreding van Covid-19-inperkingsregulasies. AfriForum het ook spesifiek gevra of die minister bewus was van enige stappe wat deur die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gedoen word om ’n vorm van amnestie aan hierdie individue te verskaf, en of die minister dit oorweeg om enige stappe te doen om wetgewing voor te stel of regulasies in te stel om ’n vorm van amnestie en skrappingsproses in hierdie verband te implementeer.

Ná verskeie navrae deur AfriForum se regspan, het die minister bevestig dat die wetsontwerp in die parlement ter tafel gelê is.

Afgesien van die EFF en Al Jama-ah, het al twaalf ander politieke partye wat in die Nasionale Vergadering verteenwoordig is, ten gunste van die wetsontwerp gestem. Die wetsontwerp sal nou na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word vir instemming.

“AfriForum sal voortgaan om hierdie aangeleentheid te monitor totdat die wetsontwerp finaal deur die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur is. Dit is onaanvaarbaar dat mense kriminele rekords ontvang het vir die oortreding van belaglike inperkingsregulasies. Sommige van hierdie individue kon intussen nie werk kry nie omdat hulle as misdadigers gebrandmerk is en ander kon om dieselfde rede nie na die buiteland reis nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings