|

Benoni-tak knap area oorkant laerskool op

Die AfriForum-tak in Benoni het op 7 April in samewerking met plaaslike organisasies en die gemeenskap die vervalle area op die hoek van High- en Umtataweg, oorkant die Laerskool Brentwoodpark, opgeknap. As gevolg van die munisipaliteit se versuim om hierdie kruising skoon en netjies te hou, moet die leerlinge en inwoners daagliks teen die verval vaskyk.

AfriForum se Benoni-tak het die skoonmaakprojek in Highweg afgeskop in samewerking met gemeenskapsorganisasies soos die sektor 3 gemeenskapspolisiëringsforum, die Rotary-klub, die plaaslike Pick n Pay, ER24, DotTowing en Clean Projects. Tydens die aksie is die area langs die pad skoongemaak, struike is verwyder, bome is gesnoei, rommel is opgetel en die lang gras is met drie trekkers gesny, terwyl die randstene ook geverf is.

“Gemeenskapslede wat saamwerk tot ’n gemeenskaplike doel om die verval van munisipale dienste teen te staan, is ’n wenresep om die voortbestaan en trots van ons gemeenskappe te bewerkstellig. Ek glo dat hierdie transformasie hoop sal bring vir die gemeenskap wat daagliks verskeie uitdagings op munisipale vlak in die gesig staar,” sê Jurie Ferreira, distrikskoördineerder van AfriForum se Benoni-tak.

Ferreira het verder beklemtoon dat hierdie projek ’n getuienis is van wat ’n gemeenskap en gemeenskapsorganisasies kan bereik wanneer hulle saamspan om ’n verskil te maak. Die tak beplan verskeie ander projekte wat deur die loop van die jaar aangepak gaan word en hy hoop dat hierdie inisiatief alle inwoners sal inspireer om betrokke te raak by die tak en om deel te neem aan soortgelyke projekte.

Die Benoni-tak wil graag elke organisasie en deelnemer bedank wat betrokke was by die sukses van hierdie projek. Die gemeenskap word ook uitgenooi om betrokke te raak en by die tak aan te sluit vir toekomstige projekte.

Soortgelyke plasings