|

SOLIDARITEIT HELPENDE HAND EN AFRIFORUM SE PRIVAATVERVOLGINGSEENHEID STAAN FAMILIE VAN LIFE ESIDIMENI-SLAGOFFER BY TYDENS GDO

Solidariteit Helpende Hand en AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan tans vir Sandra de Villiers by in die geregtelike doodsondersoek (GDO) na die dood van haar broer, Jaco Stols, in 2016 tydens die Life Esidimeni-tragedie. Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by die privaatvervolgingseenheid, is ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag aangestel om De Villiers namens Helpende Hand tydens die GDO by te staan.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die GDO versoek ten einde die volgende te bepaal: Die identiteit van die oorledene; die oorsaak en datum van dood; en of die dood veroorsaak is deur ’n handeling wat neerkom op ’n misdryf deur enige persoon.

“Die antwoord op al hierdie vrae is in hierdie geval duidelik en dit is betreurenswaardig dat die NVG ná vyf jaar steeds geen staatsamptenaar vervolg het vir die dood van die 144 psigiatriese pasiënte wat in haglike omstandighede gesterf het nie. Die staat het in hierdie geval nie net versuim om van die mees kwesbare lede van die samelewing te beskerm nie, maar dit blyk dat staatsamptenare aktief ’n rol gespeel het in die pasiënte se dood deur hulle te skuif na fasiliteite wat na bewering nie die nodige infrastruktuur gehad het om behoorlik na hulle om te sien nie,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die Gautengse Departement van Gesondheid het in 2016 ongeveer 1 400 psigiatriese pasiënte van Life Esidimeni na verskeie nieregeringsorganisasies geskuif ten einde onder meer geld te bespaar. Dít ten spyte van bewyse dat verskeie fasiliteite ongeskik was vir menslike verblyf, asook waarskuwings van kenners dat die pasiënte nié geskuif moes word nie.

Stols het verhonger in die fasiliteit waarheen hy geskuif is. Hy is eers – op aandrang van De Villiers – gehospitaliseer toe hy 39 kg geweeg het en toe was dit reeds te laat om hom te red. Staatsamptenare het nie eers die nodige toestemming van Stols se naasbestaandes gekry om hom te skuif nie en De Villiers was aanvanklik ook nie toegelaat om hom by die nuwe fasiliteit te besoek nie.

“Die Life Esidimeni-tragedie is een van die ergste menseregteskendings wat ons nóg teëgekom het. Daarom het Solidariteit Helpende Hand reeds vier families in die bemiddelingsverhoor verteenwoordig en nou vir De Villiers tydens die GDO bygestaan,” sê René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand.

Ondersteun Solidariteit Helpende Hand in hierdie saak: SMS “Geregtigheid” na 45763 (R2).

Soortgelyke plasings