|

Springs-tak beteken hofstukke aan NERSA oor elektrisiteitsprobleme in Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit

AfriForum se Springs-tak se regspan het op 3 Augustus hofstukke aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) beteken om die voortslepende kwessies rakende elektrisiteitsvoorsiening waaronder die inwoners van die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit gebuk gaan op te los .

Dit volg nadat Springs en ander dorpe wat onder dié munisipaliteit val erge en aanhoudende kragonderbrekings ervaar weens swak onderhoud van die infrastruktuur.

AfriForum het die hofstukke aan NERSA beteken omdat die munisipaliteit nie voldoen aan die minimum standaarde wat die lisensieverskaffer ingevolge wetgewing stipuleer nie. Dit volg kort nadat Eskom die implimentering van beurtkrag vir ’n week van dié munisipaliteit weggeneem het weens onreëlmatighede.

“Swak onderhoud van infrastruktuur affekteer groot dele van die Oos-Rand, veral areas soos Springs en Germiston. Inwoners moet vir baie langer sonder krag klaarkom as wat die skedule aandui. Dit plaas die gemeenskappe en eienaars van ondernemings wat kop bo water probeer hou onder ongelooflike druk. Ons het die hof genader om NERSA te verplig om ’n ondersoek te loods en om die munisipaliteit te verplig om ’n werkbare en volhoubare plan uiteen te sit waarin hulle verduidelik hoe die munisipaliteit die kwessie gaan oplos,” sê Jurie Ferreira, distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

AfriForum moedig die publiek aan om by die Springs-tak betrokke te raak en ’n verskil te maak. Kontak Jurie Ferreira by 081 217 8579.

Soortgelyke plasings