|

Suid-Kaap-takke dien voorstelle vir GOP’s in

AfriForum se takke in die Suid-Kaap het kommentaar op hul onderskeie munisipaliteite se geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP) ingedien. Die Knysna-, George-, Mosselbaai-, Oudtshoorn-, Kannaland-, Hessequa-, Swellendam-, Robertson-, en Kaap Agulhas-takke het opnames onder hul lede gedoen, en daaruit kommentaar geformuleer wat na die munisipaliteite gestuur is.

Die takke versoek dat die hierdie aanbevelings in die begroting oorweeg moet word, sodat daar fondse toegewys kan word om aan die onderskeie sake aandag te gee.

Die kwessies wat deur die takke geïdentifiseer is sluit onder meer in:

  • haglike toestande by vullisterreine, veral in Knysna, waar onwettige storting plaasvind en daar geen beheer toegepas word nie;
  • verskeie dorpe se straatname en strepe wat nie geverf is nie;
  • swak toestand van strate in Oudtshoorn en Heidelberg en;
  • swak of wisselende waterkwaliteit in Kannaland en Heidelberg, asook verskeie dorpe in die Langeberg.

Verskeie ander sake is ook deur die takke aangeroer.

“Ons hoop dat die munisipaliteite regtig die voorstelle sal oorweeg en in hul GOP’s sal opneem. Ons weet dat verval nie in een jaar reggeruk kan word nie, maar daar moet iets gedoen word om verdere verval te keer en bou te bevorder. Intussen sal AfriForum se takke aanhou om projekte aan te pak om die verval teen te werk,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Soortgelyke plasings