|

AfriForum en Solidariteit Helpende Hand besoek Laerskool Muldersdrif met die #EkIsWondermeisie-veldtog

Die burgerregteorganisasie AfriForum in samewerking met Solidariteit Helpende Hand het op 3 Maart 2023 by Laerskool Muldersdrif besoek afgelê met die #EkIsWondermeisie-veldtog. Dit is waar AfriForum se teenboelieveldtog en Helpende Hand se FroueVonds en #HelpHetta-projek saamsmelt om ’n verskil te maak in meisies se lewens.

AfriForum se teenboelieveldtog fokus op die bemagtiging van jongmense en om hulle toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om boeliegedrag hok te slaan. Soms vind innerlike boeliegedrag plaas, veral onder jong meisies.

Drieduisend skoolgaande meisies se lewens kom elke maand vir vyf dae tot stilstand, omdat hul huishoudings nie sanitêre ware kan bekostig nie. Die #HelpHetta-projek versprei sanitêre ware en ander noodsaaklike higiëniese produkte aan hierdie meisies op ’n kwartaallikse basis. Hierdie Hetta-meisies ontvang ook opleiding om verskillende kwessies te hanteer, soos verwerping, groepsdruk, selfverdediging en mishandeling. Verder word hulle emosioneel en geestelik ondersteun deur gereelde WhatsApp-boodskappe waar daar tans ongeveer 200 meisies van deel is. Op hierdie groep stuur Helpende Hand se terapeute van Ons Sentrum weekliks boodskappe rondom temas wat die meisies geïdentifiseer het waaroor hulle meer wil weet, soos afknouery, verhoudings, mishandeling, ens.

“In ’n gebroke en mededingende wêreld is dit juis nodig om meisies te bemagtig om uit te staan in hierdie wêreld deur hulle aan te spoor om net hulself te wees. Met die #EkIsWondermeisie-veldtog word baie elemente van AfriForum se teenboelieveldtog gebruik, waar daar gesels word oor die belangrikheid van selfwaarde en dat ons ons waarde nie in hierdie wêreld moet soek nie, maar dat ons klaar waardig is in God se oë. Meisies is geneig om hulself af te breek deur hulself met ander te vergelyk en die gebruik van sosiale media – dit knak baie keer hulle selfvertroue. Dit is belangrik dat meisies ook op so manier bemagtig word dat hulle moet besef dat hulle liggame ’n tempel van Jesus Christus is en dat hulle hul eie liggame moet respekteer en bewaar en dat hulle liggame ook deur ander gerespekteer moet word. #EkIsWondermeisie leer meisies om ook hulle volle wapenrusting aan te trek,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Ons kinders van vandag kry omtrent net hul invloede vanaf sosiale media, waar meeste kinders uit geskeide huisgesinne kom en ouers bitter min inspraak op hulle kinders het. Kinders vorm dan hul identiteit op grond van wat aanvaarbaar is op sosiale media en dit is belangrik om veral ons dogters te bemagtig en te leer dat ons slegs ons identiteit in God kan vind, waar elkeen geskape is na Sy beeld en daarom is elkeen besonders en baie werd,” sê Johané van Niekerk, SBST koördineerder van Laerskool Muldersdrif.

“Jong meisies sukkel meestal om hulle eie waarde raak te sien. Ons het met hulle gesels oor hoe niemand anders jou waarde kan bepaal behalwe jou Skepper, God nie. ’n Skilder weet presies hoeveel tyd en moeite hy in ‘n skildery gesit en daarom is hy die enigste een wat kan bepaal wat sy skildery werd is. God wat jou geskep het is die enigste Een wat jou waarde kan bepaal. Ons het met hulle gepraat oor die waarde van jou liggaam en dat jy jou en ander se liggame moet respekteer,” meen Yolandi Singleton, hoof van Solidariteit Helpende Hand se kinderterapiesentrum, Ons Sentrum.

“Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Die leerders was veral ook ingelig oor die gevare rondom kuberafknouery en die gevolge daarvan en gevaarlike sosiale media toepassings,” voeg Bräsler by.

Vir meer inligting rondom AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings