|

Tonne teer sorg dat slaggatpad in Bethal heeltemal opgevul word

Tsibitso Sibanyonistraat in Bethal is só deurtrek met slaggate dat dit bykans soos die maan se oppervlak lyk, maar verlede week (16 Mei) is dié pad weer in AfriForum se visier geplaas. Met behulp van die inwoners van Bethal kon dié dorp se AfriForum-tak eindelik die res van die slaggate op hierdie pad opvul.

’n Deel van hierdie straat se slaggate is vroeër vanjaar opgevul nadat lede van die gemeenskap altesaam 200 sakke teer daarvoor geskenk het. Inwoners van die straat het vandeesmaand nóg 4,5 ton, oftewel 180 sakke, teer geskenk en AfriForum genader om die res van die slaggate tussen die N17 en Van Riebeeckstraat daarmee op te vul.

Die slaggate op Tsibitso Sibanyonistraat het talle voertuie se bande geëis en padgebruikers in gevaar gestel elke keer as motoriste vir slaggate moet uitswaai. Die Bethal-tak gaan binnekort nóg ’n slaggatprojek in Malherbestraat afskop, waarna dit na ander paaie uitgebrei sal word.

“Die inwoners van Bethal kan nie toelaat dat die paaie in die dorp verval nie. AfriForum is daartoe verbind om, soos wat ons al die afgelope sewe jaar doen, voort te gaan met die herstel van die dorp se paaie,” sê Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak.

Inwoners wat AfriForum se Bethal-tak wil ondersteun of by betrokke raak kan www.wordlid.co.za besoek vir meer inligting.

Soortgelyke plasings