|

Upington-tak maak bekende duikweg en park skoon

Die AfriForum-tak in Upington het tussen 27 en 29 Maart die besige duikweg in Schroderstraat net voor die sentrale sakekern skoongemaak en beveilig. Hierdie duikweg word daagliks deur talle motoriste gebruik, asook deur voetgangers wat onderweg is na die SAPD en die kliniek. Hierdie duikweg is ’n misdaadbrandpunt aangesien daar al ’n aantal voetgangers onder die duikweg beroof is.

Die duikweg is ’n seer oog vir die inwoners van Upington daarom het die AfriForum-tak dit goedgedink om opruimingswerk daar te doen. Die span het dadelik ingespring en gebreekte bome en takke afgesny en die bome gesnoei. Daar is ook baie riete verwyder om te verseker dat die water vrylik in die stormwatersloot na die Oranjerivier kan uitloop. Agt stortbakke vol gesnoeide bome, gras, riete en vullis is na die plaaslike vullisterrein geneem. Vyftien handlangers en drie lede van AfriForum Jeug het bygedra tot die sukses van die skoonmaakprojek.

Daar is ook ’n park oorkant die OK-sentrum skoongemaak en bome is gesnoei. Baie vullis is opgetel en in stortbakke gegooi wat deur Walker Midas en Kobus Duvenhage Bouers verwyder is.

“As die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit nie hul basiese pligte aan die gemeenskap nakom nie dan moet die gemeenskap ingryp. Upington maak staat op toerisme vir inkomste en indien niemand na die dorp omsien nie gaan toeriste nie meer die dorp besoek nie,” se Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.” “Dit is egter verblydend om te sien hoe ’n gemeenskap inisiatief neem en saamwerk om ’n verskil te maak. Soms voel dit dalk of iets net ’n druppel in die emmer is, maar dit is die druppels wat die emmer vol maak. Dit maak ’n mens trots.”

Nadat die duikweg en park op 29 Maart skoongemaak is, is daar watermonsters by die duikweg geneem om by Pathcare te laat toets vir riool. Daar is ’n rioolpyp wat gebreek is en die stank hang al vir drie jaar in die lug in die omgewing van die duikweg.

AfriForum se Upington-tak bedank Walker Midas en Kobus Duvenhage Bouers vir die stortbakke wat beskikbaar gestel is om die vullis te verwyder. Die tak bedank ook Excelsior Pies en Phillip Bornman wat koeldrank en water afgelewer het terwyl die span die duikweg en park skoongemaak het.

Soortgelyke plasings