| |

Vanrhynsdorp-plaasmoord: AfriForum help met ondersoek, berading

Die onsinnige moord op die 72-jarige boer Willem (Klonkie) van der Westhuizen en die aanval op sy vrou, Christine, op die plaas Ronderug buite Vanrhynsdorp vroeër vandeesweek, het skokgolwe deur die andersins veilige landelike gemeenskap hier gestuur.

Volgens die voorsitter van AfriForum se Vredendal-tak, Eric van Zyl, het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die steun van dié tak se buurtwag Dinsdagoggend ingeroep kort nadat Christine daarin geslaag het om ná die aanval hulp te ontbied. Sy is tydens die aanval vasgebind en in die badkamer toegemaak.

AfriForum het dadelik ingestem om die SAPD met die ondersoek by te staan en het met behulp van kragtige hommeltuigtegnologie die gebied vanuit die lug gefynkam en ook te voet omliggende plase besoek om verdagtes te probeer opspoor. “Geen verdagtes is tot dusver in hierdie verband aangekeer nie, maar AfriForum Vredendal sit sy betrokkenheid by hierdie saak voort. Ons sal steeds voortgaan om in samewerking met die polisie enige moontlike leidrade op te volg wat kan lei tot die suksesvolle arrestasie van die persone verantwoordelik vir hierdie grusame aanval,” verduidelik Van Zyl.

Benewens die tak se betrokkenheid by die ondersoek, het AfriForum ook reeds beradingsdienste aan Christine en nabye familielede aangebied. Volgens Johan Kloppers, traumaberader van AfriForum se traumaeenheid, is ’n plaaslike berader aangestel om die naasbestaandes te ondersteun. “Dit is noodsaaklik dat mense in die ure en dae ná so ’n traumatiese gebeurtenis emosionele ondersteuning ontvang. Die slagoffers en naasbestaandes van aanvalle soos dié se wêreld is geheel en al omgekeer en die vertroue in die samelewing is gewoonlik dan op ’n laagtepunt. Dit is daarom van kardinale belang om te weet dat daar mense is wat omgee en bereid is om te help met die pad na emosionele herstel,” verduidelik Kloppers.  

Van Zyl het sy innige simpatie namens die Vredendal-tak oorgedra aan die Van der Westhuizen-familie. Hy het ook die SAPD geprys vir hul deeglike en toegewyde werk ten opsigte van dié aanval se ondersoek en die samewerking tussen AfriForum en die polisie as “uitstekend” bestempel.

“Ons gemeenskap ken nie hierdie tipe geweld nie, en hoewel talle mense wel veiligheidsbewus is, raak mense dikwels houtgerus oor veiligheid juis omdat ernstige misdaad ’n relatief onbekende verskynsel hier is. Ons doen daarom ’n ernstige beroep op die gemeenskap om by AfriForum se plaas- en buurtwagstrukture in te skakel. ’n Sterk veiligheidsnetwerk waarin ons as gemeenskap mekaar se oë en ore kan wees, sal ons kan staal vir misdadigheid soos dié wat ons hierdie week beleef het,” beklemtoon Van Zyl.

Skakel vandag nog in by die Vredendal-tak en die tak se veiligheidstrukture. Kontak Van Zyl by 072 305 4220 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings