|

Verhoor van beskuldigdes in Senzo Meyiwa-moordsaak begin in April

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat in terme van ’n waaksaamheidsopdrag namens die moeder en susters van die vermoorde Senzo Meyiwa optree, het vandag se verrigtinge in die Palm Ridge-landdroshof bygewoon om die familie tydens die voorverhoorverrigtinge te verteenwoordig. Die hofdatum vir die vyf beskuldigdes is vir 11 tot 29 April en 13 Mei tot 17 Junie 2022 vasgestel. Die verhoor is ook na die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria geskuif. 

“Die privaatvervolgingseenheid hoop van harte dat dit nou die laaste uitstel is, want sewe jaar het reeds sedert die moord op Senzo verloop. Ons is ook teleurgesteld dat die baasbrein steeds nie aangekla is nie. Ons is steeds van mening en ondersteun die SAPD se siening dat daar genoeg bewyse is om die baasbrein te vervolg vir wat ons glo ’n kontrakmoord is. Ons is steeds bekommerd oor die aanklagte en opsomming van die wesenlike feite, en ons ondersteun nie die weergawe van ’n inbraak wat skeefgeloop het nie,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.  

Adv. Nel voeg by dat dit ’n risiko is om met die vervolging van verdagtes in ’n kontrakmoord voort te gaan as die baasbrein nie ook aangekla word nie. Die redes waarom die saak nie vanjaar kon voortgaan nie is nooit aan die publiek of familie bekendgemaak nie; die advokate het onder mekaar om ’n tafel tydens ’n voorafverhoor op die datum besluit.”   

“Die samelewing het die reg om aan te dring op bekwame, rasionele en regverdige optrede deur die vervolgingsgesag, sonder enige politieke inmenging. Dit is een van die redes waarom AfriForum by die saak betrokke geraak het. Ons is dit aan die samelewing verskuldig om te verseker dat die NVG sonder vrees, voorkeur en vooroordeel vervolg. Bowenal verdien die familie afsluiting,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings