|

AfriForum se buurtakke deel kos vir kosprojek met mekaar

Die AfriForum-tak in Bloemhof het besluit om van die surplus voedsel wat hulle as skenkings ontvang het met hul buurtak in Wolmaransstad te deel.

Op 18 Augustus is sowat 2 ton aartappels en 250 kg vleis in Wolmaransstad afgelewer. Die verspreiding daarvan word deur die plaaslike N.G. Kerk in samewerking met die AfriForum-tak in Wolmaransstad hanteer.

Die kos word versprei na behoeftige mense in Wolmaransstad, Leeudoringstad, Makwassie en Witpoort. Kerke en tehuise word by die projek betrek en van die aartappels gaan gebruik word om warm, voedsame sop te voorsien aan kinders wat volgende week terugkeer skool toe.

“Dit maak ’n mens se hart warm om die mededeelsaamheid onder ons mense te sien. Dis wonderlik om te deel as jy meer het as wat jy kan gebruik. Baie dankie aan die AfriForum-tak in Bloemhof vir hulle groothartigheid,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Gerhardt Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, beskou dit as ’n voorreg om te sien hoe gemeenskappe saamstaan tydens die pandemie. “AfriForum het nou al oor en oor bewys dat ons ten spyte van ‘n wêreldwye pandemie steeds regstaan om te help waar ons kan.”

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Wolmaransstad” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings