|

Verval van Noord-Kaapse dorpe moet nou end kry

Die jarelange verval en voortdurende agteruitgaan van dorpe in die Noord-Kaap het AfriForum se takke in Springbok, Kamieskroon, Kakamas, Keimoes, Kathu, Kuruman, Upington en Williston genoop om ondersoek in te stel na dié munisipaliteite se mislukkings en voorstelle aan hul onderskeie geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP) te maak.

Die verslae van die ouditeur-generaal oor die Namakwa, Nama Khoi, Dawid Kruiper, Ga-Segonyana, Kai !Garib, Karoo Hoogland en Gamagara Plaaslike Munisipaliteit het die ooglopende verval van hierdie munisipaliteite beaam. Benewens hierdie munisipaliteite se benarde finansiële situasies, ontbreek basiese dienslewering en broodnodige instandhouding op infrastruktuur.

Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, sê die instandhouding op paaie word veral sleg bestuur. “Bykans elke munisipaliteit het miljoene rand verkwis wat vir die herstel van paaie geoormerk is. Dit terwyl die teerpaaie steeds met slaggate deurtrek is en grondpaaie bykans onrybaar is.”

Die inwoners van Upington trek veral swaar onder verouderde infrastruktuur, wat daartoe lei dat rou riool in strate gestort word. Strauss sê daar was miljoene rand geoormerk om hierdie infrastruktuur op te knap, en hoewel die rioolwerke opgegradeer is, verouder die pyplyne in die dorp by die dag.

AfriForum se takke in die Noord-Kaap het nou voorgestel dat dienslewering eerstens op voetsoolvlak die hoof gebied word. Dit sluit in die verskaffing van vars en veilige drinkwater, werkende water- en rioolwerke, goed onderhoude teer- en grondpaaie, werkende straatligte en vullisterreine wat doeltreffend bestuur word.

“Die munisipaliteite moet pa staan vir hul mislukkings en te midde van groot onsekerheid in die land hul sokkies optrek of hande vat met AfriForum, wat die vermoë, kennis en modelle het om met dienslewering te help. AfriForum se Noord-Kaap-takke sal voort veg en bou om te verseker dat dienslewering op dorpe nie ten gronde gaan nie,” sê Strauss.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke om ’n verskil in die Noord-Kaap en die res van die land te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings