|

Vullisverwydering: AfriForum dien 654 vrystellingsaansoeke by Mangaung-metro in

Die voortslepende uitdagings met vullisverwydering en die bestuur van hierdie diens deur die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit het die burgerregtewaghond AfriForum genoop om op te tree. Dié organisasie se Bloemfontein-tak het 654 vrystellingsaansoeke namens sy lede ingedien om te versoek dat die Mangaung-metro hulle daarvan vrystel om vir die vullisverwyderingsdiens te betaal. Hierdie lede sal voortaan eerder van ’n privaat diensverskaffer gebruik maak.

Die Mangaung-metro het beweer dat hulle verlede jaar slegs vier vrystellingsaansoeke ontvang het hoewel daar 654 ingedien is. Die metro het 14 dae om te reageer op die vrystellingsaansoeke.

“Ons as verbruikers moet die reg hê om te besluit oor diensverskaffers veral wanneer daar betaal word vir ’n diens wat nie gelewer word nie. Sedert die begin van Mei het vullisverwydering deur die metro afgeneem wat daartoe lei dat mense in elk geval gebruik moet maak van privaat diensverskaffers hoewel hulle steeds die metro moet betaal,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Volgens Groenewald ontvang die gemeenskap geen kommunikasie van die metro af oor redes waarom die dienste sloer en wat die oplossings daarvoor is nie. “Dit is onaanvaarbaar. Die beloftes wat die metro van tyd tot tyd maak is leeg en intussen word ons pragstad ’n vullisterrein.”

AfriForum het reeds in Augustus verlede jaar begin om die gemeenskap met hul vrystellingsaansoeke te help. AfriForum lewer ook sedert 2020 ’n volhoubare vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein en die gemeenskap kan by hierdie diens aansluit by www.vullisverwydering.co.za.

Soortgelyke plasings