|

Nóg plekke in Vaalrivier en elders toets positief vir cholera

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die afgelope maand verskeie watertoetse in onder meer die Vaalrivier uitgevoer nadat vroeëre toetse in dié rivier positief getoets het vir cholera. Watermonsters is by dorpe langs die Vaalrivier geneem, terwyl ’n monster ook in die riviersisteem geneem is. Tientalle mense maak daagliks van dié rivier se water gebruik.

Luidens die resultate, het die volgende sewe plekke positief getoets vir cholera:

  • By die Barrage-brug in die Vaalrivier.
  • By Parys in die Vaalrivier.
  • In Welkom by Thabong waar die Mostertkanaal begin.
  • In Welkom by ’n voor wat in die Witpan inloop.
  • By Barkley-Wes in die Vaalrivier.
  • By Douglas in die Vaalrivier voordat dit met die Oranjerivier saamsmelt.
  • By Warrenton in die Vaalrivier.

AfriForum het by meerderheid van die dorpe waar daar AfriForum-strukture is, probeer om watermonsters langs die Vaalrivier te neem sowel as by ander areas waar dié organisasie klagtes ontvang het. Daar is ongeveer 40 laboratoriumtoetse in die onmiddellike omgewing van die Vaalrivier uitgevoer. Verder is daar ook indikatortoetse in verskeie ander dorpe se drinkwater gedoen om te bevestig of die water veilig is vir menslike gebruik. Hierdie indikatortoetse is gedoen nadat AfriForum verskeie versoeke van gemeenskappe ontvang het wat bekommerd is oor die kwaliteit van hul drinkwater.

Dit is egter wel kommerwekkend dat die resultate ook aandui dat daar E.coli in die meerderheid van die watermonsters teenwoordig is wat in die riviersisteem geneem is.

“Die fokus van hierdie toetse was tweeledig. Eerstens wou ons bevestig of die dorpe wat langs die Vaalrivier geleë is se drinkwater veilig is vir menslike gebruik en tweedens moes ons bepaal of daar cholera in die rivier is,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum.

Die uitslae is nóg meer kommerwekkend omdat soveel mense in Suid-Afrika daagliks water uit die Vaalrivier gebruik en daarom moet dit beter gemoniteer word.

“Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) gaan daadwerklik moet ingryp en AfriForum is bereid om te help. Wanneer daar gekyk word na die interimverslae wat deur die DWS uitgereik is, is dit duidelik dat daar nie gehoor gegee word aan die direktiewe wat uitgereik word nie. Dit blyk dat die DWS meer blaf as byt is en dit is tyd dat hulle weer begin byt,” voeg De Klerk by.

“Daar is egter een kwessie in terme van die uitslae wat nie sin maak nie. Daar is op een punt in die rivier nie cholera opgetel nie, maar verder stroomaf het die water wel positief getoets vir cholera. AfriForum is tans besig om met deskundiges hieroor te praat om vas te stel wat die rede hiervoor is,” sluit De Klerk af.

AfriForum doen ’n beroep op persone wat vermoed hulle water is nie geskik vir menslike gebruik nie, om die nodige veiligheidsmaatreëls te volg soos om water te kook voordat dit gebruik word.

AfriForum sal aanhou om sy rol as waghond te speel en om die waterkwessie te moniteer.

Soortgelyke plasings