|

Welkom-tak doen weg met slaggate by skole

Die AfriForum-tak in Welkom het vanjaar groot planne om dié dorp se paaie veiliger en meer toeganklik te maak – veral rondom skole. Dié tak het reeds ’n kontrakteur aangestel om die slaggate te begin vul met die 10 ton teer wat deur Laerskool Naudeville aangekoop is.

Die skoolhoof van Laerskool Naudeville, Tommie Doubell, het Johan Terblanche, voorsitter van die AfriForum-tak, genader oor die swak toestand van die paaie veral rondom die laerskool. Terblanche het byna onmiddellik vir Jan Jacobs van Handjievol genader om die tak te help met hierdie projek.

Hierdie gaan ’n deurlopende projek wees en die tak maak staat op donasies van die gemeenskap om hierdie projek suksesvol aan te pak. Doubell het intussen met behulp van die ouers en die breër gemeenskap daarin geslaag om fondse vir dié projek in te samel.

“Die toestand van die paaie in Welkom begin nou handuit ruk. Dit is nodig dat ons as ’n gemeenskap ons kant moet bring om totale verval te stop. Ons wil graag paaie by ander skole in Welkom ook weer mooi maak en doen dus ’n beroep op die gemeenskap en ouers van ander skole om ook ’n bydra te maak tot hierdie projek,” sê Terblanche.

’n Groot gedeelte van die skade in dié straat is as gevolg van die munisipaliteit wat nie die gate, wat hulle oopgekap het om waterpype te herstel, weer goed opvul wanneer hulle klaar is nie.

“Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit nie eens hul eie gemors kan skoonmaak nie en dit dan op die gemeenskap se skouers rus om te sorg dat die paaie weer in ’n aanvaarbare toestand is,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit of indien jy wil betrokke raak by hierdie projek skakel vir Johan Terblanche by 082 954 3160.

Soortgelyke plasings