|

Weskus-tak maak strand by Spreeuwalle skoon

AfriForum se Weskus-tak het op 26 Maart soos oudergewoonte die strand by Spreeuwalle in Langebaan in samewerking met meer as 30 gemeenskapslede, waaronder leerders van die Langebaan Primêre Skool, lede van die seiljagklub, AfriForum-lede en lede van die Nasionale Seereddingsinstituut, skoongemaak.

Een stortbak is volgemaak met vullis wat op die strand opgetel is. Ná afloop van die skoonmaakprojek is alle vrywilligers met ’n worsbroodjie en koeldrank bederf.

Gerard Brune, ondervoorsitter van die Weskus-tak, het die voortou geneem om hierdie aksie te organiseer.

Die tak bedank die Saldanhabaai Plaaslike Munisipaliteit wat plastieksakke verskaf het om die rommel in te gooi.

“Ons besef maar net weereens dat jy op die goeie gesindheid van die inwoners van Langebaan kan staatmaak en dat almal graag wil help om ons omgewing netjies te hou vir onsself en ook vir ons nageslag,” sê Brune.

“Die waarde van hierdie tipe aksies mag nooit geringskat word nie. Ek is baie trots op die tak en jeug se toewyding en bereidwilligheid om die Weskus ’n skoner plek te maak. Die gemeenskap se ondersteuning is uitstekend en ons vertrou dat dié ingesteldheid net meer momentum sal kry,” sê Sidney Monk, voorsitter van die Weskus-tak.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by soortgelyke projekte betrokke te raak en sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Weskus” na 45350 (R1) om vandag nog aan te sluit.

Soortgelyke plasings