|

Witrivier-tak installeer nuwe radioherhaler om buurtwagkommunikasie te verbeter

AfriForum se Witrivier-tak het onlangs ’n nuwe radioherhaler geïnstalleer om kommunikasie en veiligheid in die gemeenskap te verbeter. Hierdie projek is van groot belang vir die versterking van noodkommunikasie en vinnige reaksie op enige voorval op die dorp.

Die nuwe radioherhaler, wat op ’n strategiese plek opgerig is, sal die radioverbindings in die Witrivier-omgewing aansienlik verbeter en verseker dat buurtwaglede en ander veiligheidsinstansies beter met mekaar kan kommunikeer.

“Ons is baie opgewonde oor die geleenthede wat hierdie radioherhaler vir ons gemeenskap bied,” sê Theo Bezuidenhout, voorsitter van AfriForum se Witrivier-tak. “Dit sal ons nie net help om vinniger op noodgevalle te reageer nie, maar ook om beter saam te werk en gemeenskapsveiligheid te bevorder. Hierdie inisiatief is moontlik gemaak deur die toegewyde ondersteuning en samewerking van ons lede, asook die vrywilligers wat hul tyd en kundigheid ingesit het om die projek te voltooi.”

In ’n tyd waar gemeenskapsveiligheid en doeltreffende kommunikasie noodsaaklik is, is hierdie nuwe radioherhaler ’n waardevolle toevoeging tot Witrivier se infrastruktuur. AfriForum bly daartoe verbind om die belange van die gemeenskap te dien en om aktiewe stappe te neem om ’n veiliger omgewing te skep.

Vir verdere inligting oor hierdie projek of om betrokke te raak by AfriForum se Witrivier-tak, kontak Bezuidenhout by 082 562 0781.

Soortgelyke plasings