|

Standerton-substasies nou bestand teen vandale danksy gemeenskap se ingryping

AfriForum se Standerton-tak het as deel van die #Ons Dorp-veldtog ’n projek van stapel gestuur om substasies in en om dié dorp met ’n alarmstelsel te beveilig. Dit volg nadat substasies in dié omgewing etlike maande reeds telkens tydens beurtkrag onder vandalisme deurgeloop het.

Die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit het AfriForum se Standerton-tak se inisiatief verwelkom en toestemming vir die installasie van die alarmstelsel gegee. Die plaaslike sekuriteitsmaatskappye – Janson Security en Kasselman Security Services – is onderskeidelik met die installasie en die monitering van die stelsel belas.

Tot dusver is twee substasies deur middel van hierdie alarmstelsel beveilig. Volgens Leon Enslin, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak, word daar intussen reeds beplan aan die uitbreiding van dié beveiliging na ander substasies. Sodra fondse beskikbaar is, sal die uitbreiding gedoen word, bevestig hy.

“Standerton ondervind lankal probleme met vandalisme van substasies. Dié misdadigheid beteken boonop dat die kragvoorsiening aan instellings wat noodsaaklike dienste moet lewer, nie net met beurtkrag te kampe het nie, maar dat kragvoorsiening selfs verder negatief beïnvloed word. Daar kan nie bloot toegekyk word, terwyl dié vandalisme voortduur nie. Die installasie van hierdie alarmstelsel is net een van die maniere waarop ons as gemeenskap eienaarskap neem van ons omgewing en die probleme self aanpak,” sê Enslin.

Inwoners word versoek om AfriForum se Standerton-tak te ondersteun. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings