|

AfriForum se Standerton-buurtwag help om brandende huis te blus

Die AfriForum-buurtwag in Standerton het op Woensdag 2 Oktober 2019 kragte saamgespan om ’n brandende huis in Kosmospark te help blus. Die buurtwag is ontplooi nadat hulle in kennis gestel is dat die huis brand en hulp benodig word om die vlamme te blus. Die plaaslike brandweer is geskakel, maar het nie opgedaag nie.

Volgens Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, is die hele huis in die brand verwoes. “Toe ons die noodroep kry, het ons onmiddellik na die toneel gehaas. Met ons aankoms was die huis reeds in vlamme, en alhoewel ons daarin kon slaag om die brand te blus, kon ons nie die skade aan die huis verhoed nie,” sê Pretorius.

Dit is belangrik dat gemeenskappe saamspan om doeltreffende reaksie tydens noodgevalle te verseker, sê Pretorius. Hy moedig gemeenskapslede aan om by bestaande strukture betrokke te raak om mekaar sodoende te ondersteun.

Dié buurtwag het ook op 25 September 2019 inligting oor gesteelde skape van ’n informant ontvang. Die buurtwag het onmiddellik gereageer en die SAPD daarvan in kennis gestel. Die SAPD het saam met die buurtwag uitgegaan en kon daarin slaag om vyf skape terug te kry. Die SAPD het verdagtes in hegtenis geneem.

“AfriForum se Standerton-buurtwag is beïndruk deur die samewerking tussen die gemeenskap en SAPD, wat weer eens bewys wat vermag kan word as rolspelers saamwerk. Sonder gemeenskapsbetrokkenheid sou dít nie moontlik gewees het nie,” sê Gerhard Moll, voorsitter van AfriForum se Standerton-buurtwag.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings