|

AfriForum-buurtwag in Hartbeesfontein help met misdaadvoorkoming

AfriForum se Hartbeesfontein-buurtwag het op 5 Februarie ingespring en die gras by die substasies met ’n trekker en bossiekappers gesny, sodat die area weer netjies is.

Die gras is gesny in ’n poging om kabeldiefstal te voorkom en om die algehele netheid van die substasies te verbeter.

“Die lang gras het veroorsaak dat daar nie dadelik gesien kon word as kabels gesteel word nie en het ook ’n wegkruipplek vir misdadigers gebied,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Hierdie buurtwag is ook altyd bereid om ongelukstonele te beveilig en die verkeer te reguleer.

Die lede het onlangs hulp verleen op ’n ongelukstoneel waar ’n vragmotor omgeslaan het. Hulle het die vragmotor regop gedraai en die vrag beveilig.

Intussen het die Hartbeesfontein-buurtwag die afgelope ruk heelwat inligting opgevolg oor verdagtes in die dorp en dit het verskeie arrestasies tot gevolg gehad.

Verder hou die buurtwaglede ook deurlopend ’n wakende oog oor huise waar die inwoners nie tuis is nie, terwyl hulle ekstra moeite daarmee doen gedurende vakansies.

“Hoewel die gereelde patrollies wat hierdie buurtwag doen van onskatbare waarde is, is dit nie die enigste diens wat dié  AfriForum-buurtwag aan die gemeenskap lewer nie. Die lede wat op die buurtwaggroep is, kry gereeld inligting oor ongelukke, opstande, paaie wat versper word en die afgelope tyd ook oor die vloede in die area. Daar is noue samewerking met die beheerkamer in Hartbeesfontein,” sê Pretorius.

“Ek is trots op hierdie mans en vroue wat die veiligheid van hul gemeenskap as prioriteit ag. Die gemeenskap het ook groot waardering vir dit wat hierdie AfriForum-buurtwag doen. Ek moedig die lede van die gemeenskap wat nog nie ’n lid van die buurtwag is nie, om aan te sluit en ook jou deel vir die gemeenskap by te dra.”

Raak vandag nog by AfriForum se Hartbeesfontein-buurtwag betrokke deur vir Richard Cronje by 073 437 8215 te kontak.

Soortgelyke plasings