Konstitusionele Hof beslis in guns van vuurwapeneienaars

AfriForum verwelkom vandag se waterskeidingsuitspraak waar die Konstitusionele Hof nie net ten gunste van Fidelity Security Services (Edms.) Bpk. beslis het nie, maar ook alle Suid-Afrikaanse vuurwapeneienaars wat versuim het om hul vuurwapenlisensies voor hul vervaldatum te hernu. Dié hof het beslis dat diegene wat nie hul vuurwapenlisensies betyds kon hernu nie en daarna verbied is om ’n geldige lisensie verder te bekom, toegelaat moet word om die prosesse te volg soos bepaal in die Wet op Vuurwapenbeheer, 60 van 2000, om ’n geldige vuurwapenlisensie vir sulke vuurwapens te bekom.

Dit het die vorige uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl bevestig naamlik dat ’n vuurwapen, hetsy gelisensieer of nie, die eiendom van die eienaar is totdat dit ingevolge die onderskeie wetlike bepalings vernietig word. Dit is ook ’n bevestiging van die eiendomsreg wat vuurwapeneienaars besit ten opsigte van hul vuurwapens soos vervat in artikel 25 van die Grondwet, ongeag hul lisensiestatus.

“Ons is verheug oor hierdie nuus en vertrou dat die Minister van Polisie so gou moontlik voorskrifte sal uitreik en regulasies uitvaardig om uitvoering te gee aan die Konstitusionele Hof se uitspraak. AfriForum is die afgelope paar jaar oorval met navrae en klagtes van vuurwapeneienaars wat weens laat hernuwingsaansoeke en ’n duidelik verkeerde interpretasie van die wetgewing, hul wapens kwyt is. Van die wapens is deur die SAPD gekonfiskeer en daarna vernietig. Hierdie uitspraak maak dit duidelik dat hierdie praktyk nou in stryd is met die bepalings van die vuurwapenwet. AfriForum sal die minister moniteer en druk plaas dat prosesse ingestel word wat deur vuurwapeneienaars gevolg moet word om hul lisensies wat verval het dringend te hernu,” sê Armand Greyling, regs- en risikobeampte by AfriForum.

Soortgelyke plasings