|

AfriForum rig dringende brief aan minister van Water en Sanitasie oor waterkrisis in Parys

AfriForum se Parys-tak het vandag ’n dringende brief aan Senzo Mchunu, die Minister van Water en Sanitasie, gerig oor die waterkrisis in Parys. Sommige inwoners is vir die soveelste keer in hoeveel maande al twee weke en langer sonder water. Mchunu het tydens ’n onlangse vergadering gesê hy kan verantwoordelik gehou word as daar nog steeds waterprobleme in Parys is. Sedertdien het niks egter verbeter nie – inteendeel.

In die onlangse vergadering het die minister daarop aangedring dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit dadelik ’n kragopwekker moet aanskaf sodat die waterwerke tydens kragonderbrekings steeds kan werk. Verder het Mchunu genoem dat hy daarop aandring dat daar behoorlike sekuriteit moet wees omdat die munisipaliteit van vandalisme gepraat het. Hy dring ook daarop aan dat sleutelposte soos dié van munisipale bestuurder, finansiële hoof en direkteure so gou as moontlik met bevoegde mense gevul moet word. Tot nog toe het niks egter verander nie. AfriForum het verneem dat ’n munisipale bestuurder eers aangestel moet word om die aankoop van ’n kragopwekker goed te keur. Daar is ook steeds byna geen sekuriteit by die waterwerke nie – die hek staan oop en enige iemand kan ingaan.

“Dit is onaanvaarbaar dat die inwoners van Parys so swaar moet kry, veral nadat die minister onderneem het om toe te sien dat die nodige gedoen word. Daar moet nou dringend bekwame aanstellings in dié sleutelposte gemaak word sodat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit hulle werk kan doen. Water is ’n basiese mensereg en daarom verwag ons dat daar teen die einde van die week positiewe terugvoer moet wees, anders sal AfriForum se regspan die nodige stappe neem,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Indien jy by dié AfriForum-tak wil betrokke raak, kontak vir Schalk Burger by 082 653 4281.

Soortgelyke plasings