|

Gemeenskappe moet self verantwoordelikheid neem vir hul erfenis

Op Erfenisdag is AfriForum se boodskap dat gemeenskappe self verantwoordelikheid moet neem vir die bewaring en bevordering van hulle erfenis.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is die bewaring van erfenis nie ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid en ’n ereskuld wat van geslag tot geslag oorgedra word. “Elke geslag is maar net die bewaarders van hulle erfenis, nie die eienaars wat dit kan gebruik vir die bevordering van eietydse behoeftes en doelstellings nie.”

Bailey het daarop gewys dat die bewaring van erfenis soos ons taal, historiese gedenktekens, erfenisterreine en geskiedenisnavorsing nie aan owerhede oorgelaat mag word nie. “Te dikwels word dit dan afgeskeep. Soms word dit as minderwaardig voorgehou, wat beteken dat poste in erfenissektore onderbetaald is en nie gesog is nie. Amptenare wat daarvoor verantwoordelik is, word verder ook nie noodwendig verantwoordelik gehou vir die uitvoering van hulle verpligtinge nie.”

Bailey meen dat dit selfs nog meer skadelik is wanneer ideologies gedrewenes gemeenskappe in die land se onderskeie erfenisse inspan om verdeeldheid te saai, in plaas daarvan dat gemeenskaplike grond in nalatenskappe gevind word wat wedersydse respek en erkenning kan bevorder.

“Takke van AfriForum verrig reeds landswyd belangrike werk om erfenisbakens in hulle omgewing in stand te hou. Ons beoog om dié soort werksaamhede steeds uit te bou. Erfenis kan nie aan mense met agendas uitgelewer word nie, maar moet rigtinggewers vir gemeenskappe wees om te weet waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is. In die woorde van pres. Paul Kruger moet ons uit die verlede neem wat goed is en die toekoms daarop bou,” beklemtoon Bailey.

Soortgelyke plasings