|

Veiligheid eerste: Oudtshoorn-tak snoei 50 bome op besige pad

Die AfriForum-tak in Oudtshoorn se #OnsDorp-projek is in volle swang nadat dié tak verlede week die strate van die dorp ingevaar het om vullis op te tel, parke op te knap en veral bome te snoei wat ’n gevaar vir verkeersveiligheid ingehou het.

Die tak het die projek afgeskop deur die middelmannetjies in Parkweg te takel en nagenoeg 50 bome se laaghangende takke te snoei sodat motoriste duidelik die aankomende verkeer in Rademeyerstraat en Luscombestraat kan sien. Die tak het ook onkruid op dié drie strate se sypaadjies geskoffel en uiteindelik vier vragte vol vullis en onkruid verwyder.

Sommige apparate in die speelpark in Luscombestraat is ook deur die tak herstel, terwyl die res van dié park se bome natgelei is. Die tak het vantevore bome in hierdie park en die bogenoemde strate geplant, en onderhou dit sedertdien getrou.

“Ons is trots op ons dorp, en sal voortgaan om te bou en onderhou,” sê Johan Conradie, lid van AfriForum se Oudtshoorn-tak.

Sluit aan by AfriForum se Oudtshoorn-tak om deel te wees van die verskil wat dié tak daagliks maak. Kontak Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, by marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel hom by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings