|

AfriForum eis duidelikheid van NERSA oor nakoming van hofuitspraak

Die burgerregteorganisasie AfriForum het versoek dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) moet bevestig of hy munisipaliteite steeds verplig om kostestudies in te dien wanneer hulle aansoek doen vir tariefverhogings.

Die Hooggeregshof in Pretoria het in Oktober 2022 die gebruik van prysbande en riglyne onwettig verklaar. Dié uitspraak het tot volg dat munisipaliteite nou kostestudies moet indien alvorens hulle tariefverhogings mag instel.

Die kosteraamwerk is daargestel om verbruikers teen uitermatige hoë tariewe te beskerm. Voorheen het NERSA jaarliks prysbande en riglyne aan munisipaliteite deurgegee, maar die gevolg hiervan was dat munisipaliteite nie die werklike koste van elektrisiteitsvoorsiening hersien het nie. ’n Kostestudie bepaal wat die huidige koste vir die verskaffing van elektrisiteit is en ’n tariefverhoging kan dan meer akuraat daarvolgens bepaal word.

Dit blyk egter dat NERSA nie gehoor gee aan die hofbevel nie aangesien hulle kommunikasie aan munisipaliteite gestuur het waar hulle nou ’n nuwe inkomstevereiste sjabloon aan munisipaliteite verskaf wat hulle kan gebruik wanneer hulle aansoek doen vir tariefverhogings – dít in plaas van die kostestudie soos die hof beveel het.

Volgens Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, is die gebruik van ’n goedgekeurde sjabloon eerder as die kostestudie ’n bekommernis aangesien dit kan beteken dat NERSA teenstrydig met die hofbevel optree. “Ons soek verifieerbare syfers om aan te dui wat munisipaliteite se tariewe behoort te wees. ’n Kostestudie is die beginpunt om munisipaliteite en NERSA in die regte rigting te stuur.”

Soortgelyke plasings