|

Stellenboschers skitter by onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente

AfriForum se Dink of Sink-span het die afgelope naweek (11 Mei) die Dink of Sink onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente by die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied. 

Die doel van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie is om debat in Afrikaans op laerskool-, hoërskool- en universiteitsvak te bevorder. Terselfdertyd leer die debatteerders ’n kernvaardigheid wat hulle in die toekoms sal baat wanneer hulle die werksplek betree. AfriForum het verlede jaar besluit om die kompetisie na elke universiteit in Suid-Afrika uit te brei waar universiteitstudente deelneem. Die wenspan van die universiteit dring dan deur na die nasionale finaal wat vanjaar op 6 Julie plaasvind.

Altesaam 12 universiteitstudente van die US het aan die interne kompetisie deelgeneem.

“Die studente het waarlik hulle staal gewys en vir ’n goeie kompetisie gesorg. Hulle het met goed geformuleerde argumente en selfvertroue die kompetisie aangepak. Dit is ongelooflik om te sien hoe die studente goed gestaafde argumente met relevante bronne in ’n uur voorberei het,” sê Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys.

StudentePlein 1 se Naudé Lourens, Neelsie van Dyk, Ignus Ferreira en Righardt Pretorius was as die grootste groot praaters aangekondig, terwyl StudentePlein 2 se Megan Jones, Megan Kruger, Isabella Burgers en Simoné Shirley as die naaswenners aangekondig is. StudentePlein 1 se span dring deur na die nasionale finaal waar hulle teen Noordwes-Universiteit (NWU), Universiteit van Pretoria (UP) en Akademia sal deelneem.

“Die hoë gehalte van die debatte weerspieël die universiteitstudente se toewyding. Dit is opwindend om te sien hoe hierdie studente verbeter in hul debatte en hoe hulle hierdie vordering by die nasionale finaal ten toon gaan stel,” sluit Müller af.

Soortgelyke plasings