Ysterpenlokval
|

Ysterpenlokvalle: AfriForum ontwikkel opleidingsmodule om buurtwagte toe te rus vir bekamping van dié euwel

’n Nuwe opleidingsmodule, waardeur alle AfriForum-buurtwaglede op ’n nasionale vlak opgelei gaan word in die bekamping van ysterpenlokvalle (oftewel “spikings”), skop aanstaande week af. Die module is ontwikkel deur AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid en is daarop gemik om buurtwaglede toe te rus met kritieke vaardighede om dié toenemende misdaadeuwel, wat motoriste landwyd op tientalle hoofroetes en veral in en om Pretoria teister, die hoof te bied.

AfriForum het reeds 22 basiese opleidingsmodules ontwikkel wat weekliks aan sy 177 buurt- en plaaswagstrukture landswyd aangebied word. Oor enkele dae word nog ’n module by dié lys gevoeg.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, sal buurtwaglede teoretiese opleiding ontvang en leer om voorkomend en reaktief ten opsigte van ysterpenlokvalle op te tree.

AfriForum se buurtwagte het reeds in April vanjaar hul verbintenis gegee tot die bekamping van ysterpenlokvalle in veral gebiede wat swaar gebuk gaan onder dié tipe misdaad. Gereelde patrollies het tot dusver ’n belangrike deel van buurtwagte se strategie gevorm, maar die opleiding wat nou ontwikkel is, sal hul benadering aansienlik verfyn.

“Unieke misdade vereis ’n unieke benadering en daarom is dit ook noodsaaklik dat AfriForum se buurtwagte die manier waarop hierdie tipe misdaad hanteer word, opskerp,” verduidelik Broodryk.   

Buurtwagte se kennis ten opsigte van die hantering van ’n toneel waar ’n lokval geplaas is, maar nog geen slagoffers opgeëis het nie, sal deur die opleiding uitgebou word. In so ’n geval sal dit die buurtwag se eerste prioriteit wees om te voorkom dat iemand wel ’n slagoffer word. Waar motoriste reeds die slagoffer van so ’n lokval geword het, sal die beveiliging van slagoffers prioriteit geniet waarna die beveiliging van die toneel gedoen sal word. Buurtwaglede sal leer hoe om dié tonele te beveilig, alle relevante rolspelers te betrek en die soektog na verdagtes aan te pak.

“Dit is belangrik dat buurtwagpatrolleerders moet verstaan dat, wanneer hulle op so ’n versperring afkom, dit as ’n hinderlaag of ’n lokval hanteer moet word. Hierdie situasie kan uiters plofbaar wees aangesien gewapende misdadigers moontlik naby die lokval wegkruip om hul slagoffers te oorrompel,” sê Broodryk. “Topgehalte en relevante opleiding is derhalwe noodsaaklik. Dit sal nie net buurtwaglede se eie veiligheid help verseker nie, maar ook toesien dat lede weet hoe om doeltreffend, veilig en binne die raamwerk van die wet op te tree.”

Die uitbreiding van AfriForum se opleiding om nuwe of toenemende misdaadtendense die hoof te bied, is voorts ook van groot belang, sluit Broodryk af.

AfriForum se gratis inligtingsgids oor ysterpenlokvalle is nou beskikbaar. Die gids kan hier afgelaai word.

Raak betrokke by jou naaste AfriForum-buurtwag: Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za.

Soortgelyke plasings