|

AfriForum heropen veldblomroete in Langebaan

Honderde mense het weer vanjaar met die aanvang van lente by ’n staproete in Langebaan byeengekom om Namakwaland se blommeprag te bewonder. AfriForum se Weskus-tak het ’n paar jaar gelede in samewerking met lede van die Longacres Huiseienaarsvereniging hierdie staproete vir ’n kort tydjie vir die publiek oopgestel. Die tak het intussen borde op die landgoed opgerig met die naam en agtergrond van die veldblomme in die gebied. Die tak het vanjaar saam met die vereniging weer die staproete vir die publiek oopgestel.

Vanjaar pronk die blomme behoorlik ná die bogemiddelde reënval die afgelope winter. Met die heropening van die roete het nagenoeg 100 besoekers opgedaag om die blomme te sien. Selfs Boffie Strydom, die Weskus-distriksmunisipaliteit se burgemeester, en Charmaine Laubscher, onderburgemeester van die Saldanhabaai Plaaslike Munisipaliteit, het die geleentheid bygewoon om die staproete amptelik te heropen.

William Waugh, hoof van organisasiebou by AfriForum, sê die projek illustreer die voordele wat samewerking tussen gemeenskappe en selfs politici kan inhou, veral wanneer hulle dieselfde ideale koester. “AfriForum wil met hierdie projek verseker dat die natuurskoon bewaar en bewonder word. Met hierdie staproete kan almal die blommeprag geniet,” sê hy.

Die staproete bied aan besoekers die geleentheid om die unieke plante en blomme van die Weskus te sien en meer daarvan te wete te kom. Die roete is ongeveer 2 km lank en enigiemand, van jonk tot oud, kan dit met gemak binne ’n uur of twee stap. Besoekers word ook nou met ’n lys van blomme verskaf wat hulle op die staproete kan sien. Voornemende besoekers sal vooraf reëlings moet tref om die blomme te besigtig.

Kontak Sidney Monk, voorsitter van AfriForum se Weskus-tak in Langebaan, by 082 802 2349 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings