|

Vryburg-tak plant, snoei en skrop dat dit klap

AfriForum se Vryburg-tak het in 2023 behoorlik geplant, gesnoei en geskrop dat dit klap! En ten spyte daarvan dat die jaar einde se kant toe staan, is dié plaaslike tak van die burgerregteorganisasie nog lank nie klaar gewerk nie en is daar in November nog verskeie opwindende projekte aangepak.

Gedurende November het die Vryburg-tak onder meer voortgegaan met die instandhouding van die konsentrasiekampterrein in Hartebeesstraat. Hier is die tak gras gesny, vullis verwyder en bome gesnoei. Benewens hierdie skoonmaakaksie, het die Vryburg-tak ook leë erwe in dié dorp getakel, die erwe skoongemaak en sypaadjies gesny. Skoonmaakaksies soos dié is nie net van estetiese waarde vir die dorp nie, maar hou ook belangrike veiligheidsvoordele in.

As deel van AfriForum se #OnsDorp-projek het die Vryburg-tak ook in November ses witstinkhoutbome aan die Gert Lubbe-stadion, Laerskool Vryburg en die Christelike Volkskool Vryburg geskenk. 

“AfriForum sal aanhou om projekte aan te pak wat ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap maak. Die verval van munisipaliteite en dorpe sowel as toenemende misdaad is ’n landwye probleem, maar Vryburg het vanjaar bewys dat gemeenskappe wat hande vat om verval en misdaad te bekamp, sterker is. Ons sien daarna uit om in 2024 hierdie en verskeie ander nuwe projekte tot die voordeel van die Vryburg-gemeenskap aan te pak,” verduidelik Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

AfriForum se Vryburg-tak bedank ook graag die gemeenskap en borge vir die afgelope jaar se ondersteuning om hierdie projekte moontlik maak.

Raak vandag nog by AfriForum se takke betrokke, en help om jóú omgewing te beveilig en skoner te maak: SMS “Jou dorp se naam” na 45344 (R1).

  • Foto 1: De Clercq Matthee van AfriForum se Vryburg-tak oorhandig witstinkhoutbome aan Tinus Steyn van Laerskool Vryburg.
  • Foto 2: De Clercq Matthee van AfriForum se Vryburg-tak oorhandig witstinkhoutbome aan Deodat Botes, verteenwoordiger van die Gert Lubbe-stadion.
  • Foto 3: V.l.n.r. Melinda Nel (Christelike Volkskool Vryburg), Jp Nel (AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland), De Clercq Matthee (lid van AfriForum se Vryburg-tak) en Nicolene Grové (Christelike Volkskool Vryburg) tydens die oorhandiging van witstinkhoutbome aan die skool.

Soortgelyke plasings