|

AfriForum bring PAJA-aansoek aan Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit oor fooiheffings

Die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit het in ’n interne memorandum opdrag gegee het dat die koste van gesteelde kabels wat vervang moet word van inwoners se munisipale rekeninge verhaal moet word. AfriForum se takke aan die Oos-Rand het op 19 Julie ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA) ’n versoek aan die munisipaliteit gerig om te verduidelik wat tot die implimentering van hierdie onredelike heffing gelei het.

Die memorandum, wat deur die munisipaliteit se energiedepartement uitgereik is, dui aan dat ’n fooi van R1 725 op inwoners se munisipale rekeninge gehef moet word wanneer verbruikers sonder kragtoevoer is weens kabeldiefstal. Dié memorandum onderstreep die feit dat die energiedepartement in geval van diefstal aan geen kontrakteur sal opdrag gee om herstelwerk te doen voordat die heffing geïn is nie.

“Dié besluit is uiters onredelik aangesien verbruikers reeds vir die einste diens betaal waarvoor die munisipaliteit verantwoordelik is. Inwoners kan nie hierdie verantwoordelikheid op hulle eie skouers neem en die munisipaliteit se kostes dek nie,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Dit bly die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit se verantwoordelikheid om hul infrastruktuur te beveilig of gesteelde kabels te vervang. AfriForum se regspan sal die nodige prosesse volg indien die munisipaliteit met hierdie absurde idee voortgaan,” sluit Ferreira af.

Klik hier om by jou naaste AfriForum-tak betrokke te raak of aan te sluit.

Soortgelyke plasings