|

AfriForum-buurtwag help om geliefde Bethlehemiet en hondjie op te spoor

Marius van Rensburg, ook bekend as oom Van en sy schnauzer, Emma, is Woensdagoggend veilig gevind ná ’n grootskaalse soektog. Van Rensburg wat ly aan gevorderde dimensie, het Dinsdagmiddag omstreeks 16:00 in sy motor weggery ná sy vrou, Erika, hom na sy doktersafspraak geneem het. Hulle hondjie was ook in die motor.

Erika het dadelik vir Jeandre Visagie, ’n AfriForum-buurtwaglid, in kennis gestel waarna alle buurtwaglede ontplooi is om te help met die soektog. Besthsec Sekuriteit en BBS-Bethlehem Beheersentrum het ook hul kamerastelsel ingespan om die buurtwagte te help – sodoende kon hulle dadelik inligting deurgee oor waar Van Rensburg se voertuig opgemerk word.

Die soektog het tot 22:00 Dinsdagaand geduur en is weer 06:00 Woensdagoggend hervat. ’n Lid van die gemeenskap, mnr. S.P. Jacobs, het Van Rensburg omstreeks 06:00 by die ingang van die plaas Soete Inval opgemerk. Van Rensburg  was by sy volle bewuste, maar hy was moeg en vol skraapplekke. Jacobs het Van Rensburg na die Mediclinic geneem waar hy opgeneem is vir waarneming.

Van Rensburg se motor met hul hondjie nog daarin is ook teruggevind.

Erika het haar dankbaarheid uitgespreek teenoor almal wat met die soektog gehelp het en verseker het dat haar man en hondjie veilig gevind kon word.

Van Rensburg was ’n onderwyser by die Hoërskool Witteberg en is ’n geliefde figuur in die gemeenskap.

“Dit is regtig ’n wonderwerk dat Oom Van die nag in die Bethlehem-koue deurgebring het en steeds ongedeerd is.  Dit is slegs genade van bo en ’n gemeenskap se omgee wat sulke wonderwerke laat gebeur,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Soortgelyke plasings