| |

AfriForum doen voorlegging oor BELA-wet aan Parlementêre Portefeuljekomitee

AfriForum het laat gistermiddag (15 November) ’n mondelinge voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die sogenaamde BELA-wet) aan die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys gedoen. Dit het geskied in aansluiting by die uitgebreide kommentaar wat in Junie vanjaar hieroor by dié komitee ingedien is.

Saam met AfriForum het agt ander instellings ook hulle voorleggings gedoen, naamlik die Pestalozzi Trust, FEDSAS, SADOU, Section 27, Cause for Justice, Centre for Child Law, SAIRR en COSATU. Wyd uiteenlopende standpunte is gestel, maar die meerderheid voorleggers het kommer gehad oor die grondwetlikheid van sekere wysigings wat in die wetsontwerp voorgestel word.

AfriForum se standpunt dat Afrikaanse moedertaalonderrig ernstig deur die wetsontwerp bedreig word, is deur enkele van die aanwesiges aangeval as sou dit ’n poging wees om leerders op grond van ras uit te sluit. Hulle is deur AfriForum daarop gewys dat die voormalige Model C-skole van die mees getransformeerde skole in die land is en dat die minderheid Afrikaanssprekendes wit is, wat bewys dat ras nie ’n rol speel nie. Verder is daar voldoende nasionale en provinsiale wetgewing in plek om te verseker dat leerders nie sonder goeie rede weggewys kan word van skole nie. Die staat is dus enige tyd in staat om sodanige beweerde diskriminasie teen te staan. Hierdie beskuldigende veralgemening word helaas dikwels sonder enige voorbeelde of bewyse gemaak.

In die voorlegging het Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, herhaal dat die uitbreiding van openbare skole se moedertaalonderrig aanbod, die regruk van die 80% wanfunksionele skole in die land en die skep van meer gehalte infrastruktuur die oplossing vir die plasingskrisis in die land is, en nie om meer kinders in die enkele oorblywende Afrikaanse skole te plaas nie. “Met meer as dertig kinders in ’n klas en met onderrig deur middel van ’n tweede of derde taal, is daar geen kans vir die behoud van gehalte onderrig nie,” het Bailey verklaar.

Die meeste van die wysigings waaroor AfriForum kommer uitgespreek het, handel oor die toenemende sentralisering van mag in die staat se hande en die gevolglike ontmagtiging van ouerbeheerliggame. Dit sluit finale besluitneming oor skole se toelatingsbeleid, taalbeleid en selfs verskaffers van leermateriaal in. AfriForum het versoek dat die wysigingswetsontwerp as geheel omvattend hersien word.

Volgens die voorsitter van die komitee is die volgende proses wat gaan volg, dat ’n openbare raadplegingsproses oor die wetsontwerp vroeg in 2023 landswyd sal plaasvind. AfriForum versoek die publiek om op die uitkyk vir die uitnodigings na hierdie sessies te bly en om aan die proses deel te neem sodat die gevaar wat die wetsontwerp vir gehalte moedertaalonderrig inhou, afgeweer kan word.

Soortgelyke plasings