AfriForum eis antwoorde oor aanwysing van vervaardiger van nuwe slimrybewyse

AfriForum eis inligting van die Departement van Vervoer rakende die bedenklike aanwysing van IDEMIA Identity and Security South Africa as die voorkeurbieër om die nuwe slimbestuurslisensiekaarte vir die departement te vervaardig. Die plaaslike vleuel van dié Franse multinasionale maatskappy se bod is na bewering op R898 miljoen toegestaan sonder dat enige besonderhede rakende die vier ander bieërs of die departement se besluitnemingsproses bekendgemaak is. Daarom het AfriForum vandag twee aansoeke ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by die departement ingedien om kritieke inligting rakende hierdie verkrygingsproses te bekom.

In die aansoeke word onder meer gevra wat die bodbedrae van die ander bieërs was; watter ander faktore in ag geneem is om die voorkeurbieër te bepaal; watter koste aangegaan is om ’n lisensiekaartdrukker in Frankryk te gaan inspekteer; watter koste aangegaan is om die huidige masjien deur Duitse kundiges te laat diens; en wat die omvang van die huidige agterstand ten opsigte van die uitreik en hernuwing van lisensiekaarte is.

Daar is verskeie redes waarom die aanwysing van IDEMIA agterdog wek, aangesien dié maatskappy se kontrak met die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (ACSA) onlangs opgeskort is en ondersoek word vir onreëlmatighede. ’n Kontrak tussen IDEMIA en die Kongolese regering, ter waarde van $1,2 miljard, is ook in die afgelope maand opgeskort weens beweerde buitensporige tariewe. Dit is ook bloot verdag dat die tenderproses vir die druk van Suid-Afrika se bestuurslisensiekaarte al etlike kere uitgestel is sonder dat enige redes of besonderhede daarvan verskaf is.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is padgebruikers en belastingbetalers geregtig op meer inligting rakende hierdie verkrygingsproses. “Deursigtigheid is van kardinale belang in die Departement van Vervoer se besluitnemingsproses, aangesien Suid-Afrikaners lankal keelvol is vir die agterstand in die lewering van rybewyse,” verduidelik Boshoff.

AfriForum het ook reeds sy regspan opdrag gegee om alle dokumente wat deur die PAIA-aansoekproses aan AfriForum gelewer word, te bestudeer.

Soortgelyke plasings