|

AfriForum en Brain Tribe besoek Laerskool Helderkruin met leierskapsontwikkelingprojek

Die burgerregteorganisasie AfriForum in samewerking met Brain Tribe se Manie Botha, het op 27 Januarie Laerskool Helderkruin in Roodepoort besoek om leierskapsontwikkeling aan te bied.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en hoop in skole en gemeenskappe te skep. Sterk skole, leerders en gesinne sorg ook vir sterker gemeenskappe. Elke leerder in ons land verdien om die nodige leiding te bekom om hulle leierseienskappe te ontwikkel, want ons kinders is die leiers van môre. Ons wil hulle in die regte rigting stuur om sodoende innoverend te dink en met selfvertroue op te tree. Hierdie projek pas ook goed by van ons ander projekte in, soos die teenboelieveldtog, en ons entrepreneursprojek vir leerders, Besigheidsbytjies. Met hierdie leierskapsontwikkeling leer leerders empatie aan sodat hulle ander met wedersydse erkenning en respek kan hanteer,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir vir jeugleierskap.

“In die uitdagende tye wat ons beleef, is leierskap van kardinale belang veral met die oog op die toekoms van ons land. Daarom lei ons saam met AfriForum jong leiers op. Leierskapsontwikkeling en neur-eomosionele intelligensie is die boustene van ons toekomstige jong leiers. Brain Tribe is ’n kreatiewe program wat neurowetenskap kinderspeletjies maak. Saam moet ons die “tribe” (ons leerders) help om deur kleurvolle karakters die werking van ’n mens se brein gedurende besluitneming te verstaan. Brain Tribe skep ’n nuwe taal wat binne verhoudings aangeleer word om moeilike emosionele gesprekke te kan voer. Brain Tribe is ’n moet vir elke skool en ouerhuis,” sê Manie Botha, spreker van Brain Tribe.

“Ons missie en visie by Laerskool Helderkruin is om ons leerders tot hul volle potensiaal te ontwikkel. Leierskap is deel van hierdie proses sodat ons leerders die korrekte gereedskap het om die volgende fase van hul lewens met selfvertroue, die regte waardes en positiewe selfagting aan te pak. Leierskap is vir ons belangrik, sodat hierdie leerders hulself as individue, of in ’n span op verskeie areas kan uitleef en dat hulle in alle omstandighede wat oor hul pad kom kan floreer. Ons leiers besef ook die groot taak wat op hul skouers rus om ons skool se naam na buite uit te dra. Hulle het onderneem om die taak met toewyding en passie te aanvaar en om die tweede myl saam met hul skool te loop,” sê Jacques Breet, die adjunkhoof van Laerskool Helderkruin.

Stuur ’n e-pos na tania.scheepers@afriforum.co.za as jou kind se skool by AfriForum en Brain Tribe se leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings