|

AfriForum verwelkom ondersoek na polisie se wangedrag

AfriForum verwelkom die aankondiging op 11 Oktober 2020 dat die Wes-Kaapse polisie-ombudsman ’n ondersoek gelas het na die wangedrag en magsmisbruik van polisie in die Wes-Kaap. Johan Brand, ombudsman van die Wes-Kaapse polisie, het aangedui dat hy ’n volledige ondersoek gelas het na verskeie klagtes wat teen die Wes-Kaapse polisie aanhangig gemaak is.

Dit kom te midde van verskeie skrywes wat AfriForum aan die Wes-Kaapse kommissaris, lt.genl. Yolisa Matakata, gerig het op onderskeidelik 24 Julie en 27 Augustus 2020 waarin die organisasie redes versoek het vir die onnodige hardhandige hantering van lede van die toerismebedryf tydens ’n vreedsame protesoptog. Die organisasie het in die brief sy skok uitgespreek oor die brutale en hardhandige hantering van dié lede wat in Kaapstad aan ’n vreedsame betoging deelgeneem het. Die SAPD het protesgangers met ’n waterkanon gespuit, asook met traangas en knalgranate uiteengejaag.

AfriForum het ook op 23 September versoek dat die nasionale kommissaris, genl. Khehla Sitole, tussenbeide tree nadat die organisasie ’n niksseggende en uiters onbevredigende antwoord van die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris ontvang het.

“AfriForum verwelkom Brand se aankondiging. Ons doen ’n beroep op die publiek om alle voorvalle van polisie-ongerymdhede of -brutaliteit onverwyld aan die Wes-Kaapse ombudsman te rapporteer,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se opleidingsbestuurder vir Gemeenskapsveiligheid.

Van Dalen sê voorts AfriForum glo steeds dat daar heelwat goeie polisielede is, maar dat hulle deur die “vrot appels” tussen hulle beïnvloed word. “Die onwilligheid van topbestuur om wangedrag van polisielede die hoof te bied, lei daartoe dat die publiek hul vertroue in die SAPD verloor,” sluit hy af.

Soortgelyke plasings