|

AfriForum help KZN-boere aan veiligheidsplan slyp

AfriForum se Hluhluwe- en Sodwana-tak, asook verskeie ander rolspelers insluitend die SAPD, Alpha Security, Project Rhino en Nyathi Anti-Poaching het gister in die omgewing van Hluhluwe, KwaZulu-Natal (KZN), ’n plaasaanval met twee beseerde slagoffers gesimuleer om gebeurlikheidsplanne in te oefen. Die geleentheid is uit verskeie oorde as ’n reusesukses beskryf.

Die SAPD in KZN het dié oefening op provinsiale vlak voorgestel, maar gesukkel om die gemeenskap daarvoor te mobiliseer. AfriForum het hulp aangebied om die oefening gereël te kry en dit is deur die SAPD aanvaar.

AfriForum se nuutste plaasmoordverslag vir die eerste kwartaal van 2023 is pas bekendgestel en alhoewel aanvalle effens minder is as vir dieselfde periode in 2022 het die wreedheid van aanvalle glad nie afgeneem nie. Dit is dus noodsaaklik vir boere en ander plaasbewoners om te weet wat om te doen in ’n geval waar ’n plaasaanval dreig of plaasvind.

“Hierdie soort oefening is broodnodig vir ons gemeenskappe. Die gedagte is om ’n noodplan op te stel wat geaktiveer word sodra daar alarm gemaak word. Sodoende kan die gemeenskap vinnig reageer en almal weet wat om te doen,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KZN.

AfriForum en die SAPD se verhouding in KZN word gekenmerk deur goeie samewerking.

Volgens Van Aswegen word die verhouding tussen AfriForum en die SAPD in KZN gekenmerk deur goeie samewerking. AfriForum dien al geruime tyd op die SAPD se landelike veiligheidskomitee in dié provinsie. Die SAPD en AfriForum doen gesamentlik beplanning op hierdie komitee.

“Ons kry die geleentheid om saam met die SAPD aan aksies te beplan en waar daar ’n probleem is, gesels ons by die komitee daaroor en vind ’n oplossing,” sê Van Aswegen.

AfriForum het meer as 150 buurtwagte waar gebeurlikheidsplanne gereeld ingeoefen word. Jacques Broodryk, woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê dit speel ’n groot rol in buurtwagte se suksesse.

“AfriForum se buurtwagstrukture het ’n verskeidenheid gebeurlikheidsplanne wat hulle inoefen vir verskillende scenario’s. In hierdie geval was dit ’n plaasaanval en ons is baie gelukkig met hoe suksesvol die operasie verloop het. Die samewerking met die SAPD was ook puik. Ons sien gereeld hoe die inoefening van hierdie soort gebeurlikheidsplanne bydra tot die suksesse van ons buurtwagte. Ons moedig meer mense aan om by hul plaaslike AfriForum buurt- of plaaswag aan te sluit en weer die veiligheid van hul gemeenskap in hulle eie hande te neem,” sê Broodryk.

Soortgelyke plasings