| |

AfriForum Jeug se Kemptonpark-tak reik uit na Elim Kliniek

AfriForum Jeug se Kemptonpark-tak het op 28 Julie 70 komberse aan die Elim Kliniek geskenk. Elim Kliniek is ’n rehabilitasiesentrum en behandel mense met verskeie verslawings. Die AfriForum-tak is reeds sedert 2020 betrokke by die kliniek.

“Elim is ’n gerekende en ervare rolspeler wat die bekamping van verslawing betref en ons is bevoorreg om hande met hulle te vat, sodoende bied ons ondersteuning aan ons gemeenskapslede gedurende hierdie uitdagende tyd. Dit is belangrik dat die mense gemaklik voel in die sentrum wanneer hulle daar is vir behandeling, daarom is ek bly dat ons die komberse kon skenk,” sê Jan Vermaak, voorsitter van AfriForum se Kemptonpark-tak.

“Alhoewel die kliniek kritiese werk doen ontvang hulle geen staatsbefondsing nie, dit is daarom vir AfriForum belangrik om hulle te ondersteun in die goeie werk wat hulle doen. Elim behandel baie kwesbare individue en ek is daarom bly dat die tak kon uitreik ter ondersteuning. Ons bou voort op die goeie samewerking tussen die organisasies en ons ondersteun mekaar,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

AfriForum het aan die begin van die Covid-19-pandemie gesigsmaskers en handreiniger aan die kliniek geskenk. Die tak het ook nuwe banke in twee van die ontspanningsareas, waar die pasiënte films kyk, gesit.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Kemptonpark-tak. Stuur ’n e-pos na voorsitter.kemptonpark@afriforumtak.co.za om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings