AfriForum haal Eskom oor die kole vir gebrek aan steenkool en beplanning


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag sterk kritiek uitgespreek oor Eskom se steenkoolkrisis wat sowel gemeenskappe as munisipaliteite se kragtoevoer in gevaar stel.
Dit het bekend geword dat vier van Eskom se vyftien kragstasies oor minder as tien dae se steenkool beskik. Hierdie situasie kan verdere kragstasies ook tref omdat tien van hierdie stasies oor minder as twintig dae se steenkoolreserwes beskik.

Dr. Eugene Brink, AfriForum se strategiese raadgewer vir gemeenskapsake, wil weet hoe Eskom kon toelaat dat dit tot by hierdie punt vorder. “Volgens Eskom lê die probleem by die Gupta-maatskappy Tegeta wat onder sakeredding geplaas is en nie meer steenkool kan lewer nie. Die vraag is egter hoekom daar nie reeds deur die loop van die jaar plan gemaak is om nuwe verskaffers aan boord te bring nie aangesien Eskom al vroeër vanjaar pertinent oor ’n steenkooltekort gewaarsku is. Tegeta is boonop ’n berugte maatskappy wat sinoniem met staatskaping, korrupsie en laegehaltesteenkool geword het en moes lankal reeds as verskaffer die trekpas gekry het.”
Volgens Brink moet daar nou steenkool ten duurste vanaf die Medupi-kragstasie in Limpopo aangery word. “Dit beskadig ook die paaie en lei tot veiligheids- en verkeersprobleme. Talle munisipaliteite het ook beswaar hierteen aangeteken en daarom is die proses ook vir eers vertraag. Die planne om dit per spoor te vervoer word ook nie deurgevoer nie. Eskom het bloot nie voldoende beplan nie. Hulle kon ten minste vroeër begin het om geleidelik steenkool tussen kragstasies rond te skuif, maar dit het helaas ook nie gebeur nie.”

Soortgelyke plasings