Alberton-tak skenk bome aan Hoërskool Dinamika se eko-klub


Die AfriForum-tak in Alberton het as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantinisiatief tien bome aan Hoërskool Dinamika geskenk. Volgens Henk du Preez, voorsitter van AfriForum se Alberton-tak, het AfriForum vanjaar landwyd reeds meer as 3 000 bome geplant.

“Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit esteties te verbeter nie; ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is uiteraard ’n belangrike deel van die ekostelsel en ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron, maar ook deel van ons erfenis,” sê Du Preez.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum het sy takke aangemoedig om inheemse bome te plant wat maklik in hul plaaslike omgewings aard.

“Projekte soos dié bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en AfriForum se Alberton-tak onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons as AfriForum hier is om te bly en ware hoop vir die toekoms het,” sluit Du Preez af.

AfriForum wil graag Wildflower Nursery vir die skenking van die bome bedank.
Die Alberton-tak moedig die gemeenskap aan om deel van ’n groener toekoms te word.

Soortgelyke plasings