|

AfriForum se Benoni-tak pak projekte aan as deel van #VegEnBou-veldtog

Die AfriForum-tak in Benoni rol in November moue op om ’n verskil in Benoni te maak met die organisasie se #VegEnBou-veldtog. Dié tak het op 4 November 2021 begin om verskeie projekte aan te pak om die algehele beeld van die stad te verbeter. Alhoewel heelwat projekte reeds voltooi is, gaan die tak tot einde November in Benoni werskaf.

Die tak het tot dusver parke skoongemaak en klimrame opgegradeer, onwettige advertensieborde verwyder, bome verwyder wat omgeval het en het slaggate gevul.

“Die #VegEnBou-veldtog is begin om te wys dat AfriForum se strukture vir ’n beter toekoms werk. Dit is daar gestel sodat individue in ’n gemeenskap hande kan vat om saam ’n verskil te maak,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Altesaam 30 slaggate is gevul in Woburn- (ingang na Lakefield), Sunny-, Lake-, Kemston-, Park-, Harrison-, Elston-, Lakefield-, Sunnysidestraat en in Mckenzie Park. Die tak het ook onwettige advertensieborde verwyder sodat Benoni weer netjies lyk en sodat padtekens weer duidelik sigbaar is vir padgebruikers. Die park in Brentwoodpark is skoongemaak en die klimrame is opgeknap sodat dit weer ten volle benut kan word.

Ungerer voeg by dat dit merkwaardig is om te sien hoe elke woonbuurt eienaarskap neem van hul onmiddellike omgewing en dit is verblydend om te weet dat ondernemings in die Benoni-omgewing altyd daar is om die gemeenskap te ondersteun. 

AfriForum se Benoni-tak sal die res van November soortgelyke projekte aanpak. Kontak die Benoni-tak vir meer inligting oor dié projekte of om by dié aktiewe tak betrokke te raak deur ’n e-pos te stuur na benoni@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings