|

AfriForum se Bo-Karoo-protospan help om kabeldiewe te soek

Die protospan van AfriForum se Bo-Karoo-tak in Orania het op 1 November die plaaslike gemeenskap, die SAPD en Orania Veiligheidsdienste gehelp om na diewe te soek wat spilpunte se kabels gesteel het.

“Toe die oproep deurkom dat diewe kabels gesteel het by ’n boer net buite Orania, het ons onmiddellik ons hulpbronne vir Orania Veiligheidsdienste aangebied. Twee van ons protospanlede het op grondvlak help soek terwyl André Coetzee, ons lugsteunvlieënier, in sy girokopter oor die area gevlieg het,” sê Daniël Coetsee, voorsitter van AfriForum se Bo-Karoo-protospan.

“Die protospan is altyd gewillig om rolspelers in die area te ondersteun en hulp te verleen waar moontlik. Alhoewel ons nie die diewe vasgetrek het nie, kon die protospan, tesame met Orania Veiligheidsdienste, die SAPD en plaaslike boere weer eens bewys wat ons vermoë is,” sê Magdaleen Kleynhans, voorsitter van AfriForum se Bo-Karoo-tak.

“AfriForum spoor gemeenskappe en strukture aan om hande te vat en saam te werk om misdaad te bekamp. Hoe meer ons saam werk, hoe meer kan ons ’n vry en veilige omgewing bewerkstellig,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari. 

Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum se Bo-Karoo-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings